Meer gevalle van Q-koors by skape aangemeld

  • 08 June 2021
  • 764
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



So waarsku dr Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), nadat ʼn toename in die aangemelde gevalle van dié siekte in die mees onlangse verslag oor veesiektes bespeur kon word.

Hy waarsku veral teen ʼn skielike toename in aborsies. Hierdie “aborsiestorm” behoort die gevaarligte te laat flikker en produsente word aangeraai om dadelik ʼn veearts te raadpleeg ten einde groot geldelike verliese te voorkom. “Moenie jouself probeer bankrot spaar nie,” sê Malan en maan produsente om dieregesondheidspraktyke soos inentings en doserings in oorleg met ʼn kundige, soos ʼn veearts aan te pak.

Wat is Q-koors?

Q-koors, ook genoem Query-koors, kom veral by beeste, skape en bokke voor en word veroorsaak deur die bakterie Coxiella burnetii. Dié patogeen kan ook aan mense oorgedra word (soönose) en daarom moet verdagte gevalle by diere met groot sorg benader word.

  • Besmetting by mense

Indien ʼn persoon met Q-koors besmet word sal hy/sy simptome soortgelyk aan die van griep ervaar, naamlik 'n hoë koors, kouekoors, spierpyn en erge hoofpyn. Swanger vroue moet veral versigtig wees omdat die siekte die risiko vir ʼn miskraam, veral in die eerste trimester, verhoog.

Die besmetting van mense vind plaas deur direkte kontak met die bakterie wat byvoorbeeld in hooi voorkom, of deur ʼn besmette bosluis. In die geval van bosluise, lê die bosluis op die pels van ʼn dier en word daar besmette ontlasting vrygestel. ʼn Besmette dier skei die bakterie verder uit deur ontlasting, urine of melk.

Die risiko vir Q-koors word verhoog by mense wat met skape, beeste of diereprodukte soos vleis, melk of wol werk.

Interessante feite oor Q-koors:

  • Die siekte is vir die eerste keer in 1937 in die Australiese deelstaat Queensland gediagnoseer.
  • Q-koors kom wydverspreid oor die hele wêreld voor.
  • Die Coxiella burnetii-patogeen kan tot twee jaar in stof, hooi en ander droë materiale oorleef.
  • ʼn Direkte besmetting van persoon tot persoon is skaars, terwyl die patogeen by ʼn swanger vrou deur die plasenta kan dring en die ongebore kind kan besmet.
  • In 60% van alle gevalle is ʼn besmetting asimptomaties.





Related Articles