Klimaatsverandering plaas demper op globale voedselsekerheid

  • 01 October 2021
  • 909
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Kosvervaardigers sukkel om met die vraag na kos tred te hou, terwyl klimaatsverandering, warmer temperature en droogtes ʼn al hoe groter impak op landbouaktiwiteite uitoefen.

Volgens ʼn volhoubaarheidsverslag van die internasionale beleidsinstituut, Chatham House, word daar gevrees dat indien die wêreld nie daarin kan slaag om uitlaatgasse drasties oor die volgende dekade te beperk nie, opbrengste van stapelgewasse teen 2050 met ʼn derde sal verminder. Dit beteken dat produsente 50% meer kos sal moet vervaardig om in die wêreldwye vraag te kan voldoen.

In die skadu van klimaatsverandering

As daar in ag geneem word dat kospryse wêreldwyd naby aan die hoogste vlakke in ʼn dekade is, voorspel die verslag dat die impak van ekstreme weerstoestande daartoe sal bydra dat die pryse van alle basiese stapelvoedsel verder sal styg. Die moontlikheid van daadwerklike voedseltekorte in sommige dele van die wêreld word ook nie uitgesluit nie.

Klimaatsverandering dra daartoe by dat oeste vir soja, graan en rys drasties sal afneem, as gevolg van droogtetoestande en korter groeitye. Dit word verder voorspel dat teen 2040 die uitwerking van klimaatsverandering ʼn gegewe sal wees en indien lande nie vinnig begin om hul koolstofvoetspoor te verminder nie, dit tot ernstige voedselonsekerheid sal aanleiding gee.

Volgens die volhoubaarheidsverslag het kospryse wêreldwyd in een jaar met 33% gestyg, volgens syfers vir Augustus. Dit is veral die prys van graan, vleis en plantolies wat sedert Augustus 2020 deur die dak geskiet het. Die tendens van stygende kospryse sal na alle waarskynlikheid voortduur.

Derhalwe ekstreme klimaatsveranderinge, word dié tendens verder toegeskryf aan stygende vragkostes, landbou se stygende insetkostes van veral kunsmis, erge vertragings in die skeepvaartbedryf en die gebrek aan beskikbare arbeid.

Kosaankope word veral in opkomende markte ʼn uitdaging. In Suid-Afrika bestee kwesbare huishoudings tussen 40 en 50% van hul basiese inkomste net aan kos.

Die vooruitsigte en rol van die Suid-Afrika se landboubedryf

Ten spyte van die kommer oor die effek van die weerstoestande in die wêreld en die uitwerking daarvan op kosverskaffing, ondervind die Suid-Afrikaanse landboubedryf danksy bogemiddelde reënval en gunstige weerstoestande een van sy beste jare.

Volgens die landbousakekamer Agbiz is die 2020-2021 produksieseisoen ʼn robuuste een danksy goeie reënval en die uitbreiding in aanplantingsareas van verskeie gewasse. Mielies en sojabone het onderskeidelik 16,3 miljoen ton en 1,9 miljoen ton opgelewer. Dit is die tweede grootste mielieoes nog en die grootste vir sojabone.

In dieselfde lig kan die wynbedryf vanjaar ʼn groter wyndruifoes van 1,5 miljoen ton aanteken, wat 9% meer is as die oes van 2020, terwyl die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging ʼn rekorduitvoer van 163 miljoen kartonne vir 2021 in die vooruitsig stel.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, meen die uitvoer van plaaslike landbouprodukte begin al hoe gunstiger lyk en volgens hom het landbou-uitvoere in 2020 sowat R144,4 miljard beloop. Hy skryf hierdie groei toe aan die ondersteuning van werkende logistieke stelsels vanaf die plaashek tot by die hawens.

Die veerkragtigheid en noodsaaklikheid van hierdie stelsels is egter sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie op die voorgrond gebring in terme van uitdagings soos die ontwrigting van skeepsrederye, toenemende tekorte aan vraghouers en -koste, geweldpleging en die onlangse Transnet-kuberaanval.

Sihlobo en ander rolspelers is egter optimisties oor die rol wat landbou-uitvoere vir die land inhou.






Related Articles