Kleinhandelprys van melk en vleis bly hoog

  • 23 December 2020
  • 1160
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



ʼn Onlangse moniteringsverslag oor voedselpryse wat deur die Mededingingskommissie uitgereik is,  toon aan dat kleinhandelpryse nog nie na die opheffing van die streng inperkingsregulasies genormaliseer het nie. Inteendeel, kommer word in die verslag uitgespreek oor die hoë pryse wat verbruikers vir suiwel- en vleisprodukte moet betaal. Klagtes is ook van produsente ontvang, veral gedurende die inperkingstyd, rakende hoë kleinhandelpryse ten spyte van verhoogde druk op produsentpryse.

Volgens die verslag is dit van uiterste belang dat alle huishoudings toegang het tot noodsaaklike voedselprodukte. Hierdie produkte verteenwoordig 30% van laer-inkomste huishoudings se voedselbesteding en sluit melk en vleis in.

Beskikbare data dui daarop dat die kleinhandelprys van melk ʼn groter styging geniet as die onderliggende styging in die produsentprys, wat baie stadiger toeneem. Dié tendens is reeds vanaf 2012 te bespeur. Die produsentprys van melk het met net R2 per liter gestyg van R3,20 per liter in Januarie 2012 tot R5,13 per liter in September 2020. In dieselfde tydperk het die kleinhandelprys met meer as R6 per liter gestyg van R8,35 per liter na R14,73 per liter.

Vleispryse

Die verslag toon voorts dat die hoewel groothandelpryse grotendeels stabiel gebly het, daar wel ook ʼn styging in kleinhandelpryse plaasgevind het.

Dit is veral die prys van hoender, wat ʼn bron van kommer is. Dié proteïenbron se prys het vanaf April 2020 skerp toegeneem, vanaf R48 per kilogram in Maart, tot bykans R60 per kilogram in April.

* Die artikel het oorspronklik in Farmer’s Weekly verskyn. 





Related Articles