Invoere van langlewemelk styg sterk in 2021

  • 23 August 2021
  • 394
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens Sampro se jongste in-en uitvoerverslag kan sowat 12 421 ton produkte in die kategorie vir onversoete melk en room na raming vanjaar ingevoer word, vergeleke met verlede jaar se 5 619 ton. Dié syfers is gegrond op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se syfers tot en met Mei vanjaar.

Die hoeveelheid suiwelprodukte wat na raming vanjaar in totaal ingevoer gaan word, is in gewig 15,2% meer as in 2020. Die gemiddelde vry-aan-boordpryse vir al ses invoerkategorieë was in Januarie tot Mei vanjaar laer as 2020 se gemiddelde pryse.

Uitvoer-vooruitsigte

Sampro stel dit dat Suid-Afrika verlede jaar 21 290 ton in die kategorie vir onversoete melk en room uitgevoer het, en dat vanjaar se uitvoer-vooruitsigte, gegrond op die uitvoer van Januarie tot Mei vanjaar, 22 915 ton kan wees.

Dit totale uitvoer van suilwelprodukte kan volgens die organisasie met soveel as 8,8% styg in vergeleke met 2020, en sal dan 12,9% meer wees as in 2019.

Die gemiddelde vry-aan-boordpryse waarteen suiwelprodukte vanaf Januarie tot Mei uitgevoer is, was in vier van die kategorieë hoër was as verlede jaar, terwyl wei en weipoeier, asook botter en bottersmere teen laer pryse uitgevoer is.

Die gemiddelde vry-aan-boordprys vir uitgevoerde langlewemelk was van Janaurie tot Mei vanjaar R12,37 per kilogram, terwyl die gemiddelde vry-aan-boordprys vir ingevoerde langlewemelk in dieselfde tydperk vanjaar R9,12 per kilogram beloop het. 





Related Articles