Inkrimping van landbousektor-ekonomie geen rede tot kommer nie

  • 09 December 2021
  • 650
  •  
  •  
  •  nuus



Dit volg nadat Statistieke Suid-Afrika vroeër die week die syfers vir die derde kwartaal se bruto binnelandse produk (BBP) vrygestel het. Volgens die syfers het die landbousektor ʼn ekonomiese inkrimping van 13,6%, kwartaal-tot-kwartaal (seisoenaal aangepas) beleef. Hierdie verteenwoordig die grootste daling van al die sektore.

Die res van die ekonomie het met 1,5% gekrimp en volgens Enoch Godongwana, die minister van finansies, moet meer gedoen word om die ekonomie – wat tans onder groot druk verkeer, reg te ruk.

Daling is ‘n verrassing, maar ook verstaanbaar

Volgens Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, het die skerp daling in die landbou-ekonomie almal verras, maar hy voeg by dat die daling tog verstaanbaar is.

“Die meeste hoëfrekwensiedata wat oor die afgelope paar maande verwerk is, het ‘n positiewe prentjie van Suid-Afrika se landbou-ekonomie geskets. Oor die algemeen is die derde kwartaal ‘n relatief stil tydperk in landbou omdat oeste merendeels gedurende die ander drie kwartale afgehaal word.”

Sihlobo voeg by dat die afswaai ook in landbou-arbeidsdata weerspieël word. Hierdie data het in die derde kwartaal met 4%, kwartaal-tot-kwartaal, gedaal. In dieselfde tyd het indiensneming op ‘n jaargrondslag met 3% toegeneem.

Nog ‘n bydraende faktor wat in ag geneem moet word is dat die kwartaallikse bruto waardetoegevoegde data vir landbou geneig is om wisselvallig te vertoon. Sihlobo meen die sektor is egter vol vertroue dat die groeisyfers vir die jaar baie goed sal lyk. Hy verwag dat die laaste kwartaal se syfers weer mooi sal herstel, wat tot ‘n gesonde prestasie vir die jaar sal aanleiding gee.

Die Buro vir Voedsel-en Landboubeleid (BFAP) voorspel instussen dat landbou se groei vir 2021 op 7,6% jaar-tot-jaar sal realiseer.

Hierdie gunstige groeisyfer word gebaseer op die gunstige weerstoestande wat oesopbrengste verhoog en weiveld verbeter het, tesame met ‘n toename in die oppervlaktes wat aangeplant is. 






Related Articles