Impak van geweldpleging op SA landbou is enorm

  • 02 August 2021
  • 528
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens Christo van der Rheede, Agri SA se uitvoerende hoof, is die skade aan sakepersele, hoenderplase, slagpale en suikermeulens en -plantasies enorm. Tydens ʼn onlangse voorlegging aan die Nasionale Landboubemarkingsraad aangaande die voorlopige skadeberamings in die landbousektor wat voedselverskaffing negatief kan raak, het Van der Rheede die “postgeweldpleging realiteit” van verskeie landbou entiteite aan die raad voorgehou.

Skadeberamings toon verliese van miljoene rande

Vleisbedryf

Hy noem dat ʼn  groot verskaffer van verwerkte vleisprodukte in KwaZulu-Natal die skade aan sy twee koelstore, sy aanleg en toerusting op minstens R300 miljoen tot R400 miljoen reken. Dié onderneming sal voorts, volgens die Suid-Afrikaanse Vleisverwerkingsvereniging (Sampa) eers oor 18 maande weer ten volle in produksie sal wees.

Volgens Johann Kotzé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusenteorganisasie (Sappo) het die bedryf ongeveer 7% van sy vermoë verloor weens die plundering en tydelike sluiting van abattoirs in KwaZulu-Natal. Dié verlies volg nadat die bedryf onder meer 6 000 ton ingevoerde varkribbes verloor het weens diefstal uit koelstore in Durban.

Die Vereniging vir Vleisinvoerders en Uitvoerders (Amie) het bekendgemaak dat verkoelingsgeriewe,  waarin 40 000 ton geberg kan word, in die Durbanse hawe as gevolg van die plundering moes sluit.

Varsprodukte

Op een plaas word die skade op R3 miljoen beraam vir tamaties, piesangs en soetrissies wat weens die ontwrigting van padvervoer nie afgelaai kon word nie, of glad nie eens opgelaai kon word vir verspreiding nie. In KwaZulu-Natal is sowat 40 vragmotors aan die brand gesteek, wat die provinsie se verspreidingsnetwerk geheel en al lamgelê het.

Volgens Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging van Suid-Afrika, is daar tans groot opeenhopings in die Durbanse hawe, verkoelingsgeriewe is vol en dit sal ʼn ruk neem voordat die situasie tot normaal terugkeer.

Ander

Uit Agri SA se aanbieding blyk dit voorts dat ondernemings wat sekere belangrike verpakkingsmateriaal vir kartonne vir onder meer sitrus, steenvrugte en tafeldruiwe vervaardig, tydelik tot stilstand gedwing is.





Related Articles