Hael slaan skape in Vrystaat dood

  • 27 October 2021
  • 1090
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dié haelstorm het Maandag die Theron-familieboerdery by Edenville getref, dit kort nadat sowat die helfte van hul weiding op die plaas gedurende die winter deur veldbrande verswelg is. Volgens Heyns het die veld net begin groen word na die onlangse reën, toe die skape wat daar gewei het deur die hael doodgeslaan is.

Die storm het Maandagmiddag omstreeks 14:30 deur die gebied tussen Edenville en Kroonstad beweeg. Heyns, sy pa, en van die plaaswerkers het probeer om die skape na veiligheid te jaag. Dit was egter ʼn gesukkel en die storm het al erger geword. Die manne moes uiteindelik bes gee en vir hul eie veiligheid uit die veld padgee.

Heyns vertel dat die weer baie gevaarlik was en dat die hael swaar neergeval het. Dit was so erg dat die hael binne ʼn kort tydjie sowat 30 cm dik gelê het. Die Therons se skuur, waar hulle bale wol opberg, se dak het so vol hael gelê dat die water deur die sinkdak by die skuur ingestroom het en gevolglik skade van sowat R150 000 opgedoen het.

Die Therons het Dinsdag ʼn sloot gegrawe om van al die skaapkarkasse ontslae te raak. 





Related Articles