Groot verwagtinge vir plaaslike katoenbedryf

  • 23 August 2021
  • 644
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA, is katoen ʼn “wonderlike” gewas om aan te plant en hou dit ten opsigte van plaaslike vervaardiging en uitvoergeleenthede baie potensiaal in vir produsente. Die stygende vraag na die gewas, en die kleiner wêreld aanbod skep volgens Bruwer ʼn groot voordeel vir die plaaslike katoenmark.

Internasionale mark

Internasionaal is lande soos Viëtnam en Bangladesj van die grootste gebruikers van katoen en voer dié gewas vanuit verskillende lande in. Sjina is die grootste invoerder van katoen en het gedurende 2020 ongeveer 1,9 miljoen ton daarvan ingevoer.

Desondanks die verwagting dat katoenproduksie internasionaal met 5% sal styg teen die einde van die jaar, bestaan die kommer dat daar nie genoeg katoen gelewer sal kan word om aan die groot vraag daarna te voldoen nie.

Volgens Bruwer kan die verhoogde vraag na katoen toegeskryf word aan onder meer markte wat besig is om te herstel van die impak van die Covid-19-pandmie en ʼn gevolglike toename in die bedrywighede van die klere-en-tekstielbedryf. Hy verduidelik dat op die mediumtermyn die groot dryfveer agter katoenproduksie die wêreld se groeiende bevolking sal wees, wat die vraag na klere en bykomstighede drasties sal laat toeneem.

Katoenproduksie in Suid-Afrika

Oor die afgelope drie jaar is daar gemiddeld 200 000 katoenbale in Suid-Afrika geoes. Elke baal weeg nagenoeg 200 kg.

Katoen word in die land se noordelike streke aangeplant, en die gewas is baie goed bestand teen droogte en kan vir lang tye gestoor word. Interessant genoeg, is katoen voorts een van die min gewasse wat vir kos- en tekstielvervaardiging ingespan kan word. Katoensaad word byvoorbeld fyngemaal en in dierevoer gebruik.

Bruwer is van mening dat daar genoeg geskikte grond is vir die verbouing van katoen en sê dat KwaZulu-Natal histories, veral in die vroeë tagtigs en negentigs gewild was onder katoenboere. Die verbouing van suikerriet het egter dié gewasproduksie tot stilstand gedwing. “Dit kan egter weer verander en suikerrietboere begin gelukkig weer om katoen as ʼn wisselgewas aan te plant,” sê Bruwer.

Uitdagings

Bruwer verduidelik dat die katoenbedryf verskeie uitdagings het om die hoof te bied, waaronder ander bronne van hemp en sintetiese materiaal die grootste is.

Een so ʼn alternatiewe bron is die vesel wat afkomstig is van daggaplante. Daggaplante gebruik tot vyf keer minder water as katoenplante én benodig nie naastenby soveel sorg nie.

Suid-Afrika se gebrekkige spin-en weeffasiliteite dra verder daartoe by dat ongeveer 80% van die land se katoenoes jaarliks vir verwerking uitgevoer moet word. Dié verwerkte materiaal moet dan weer, ten duurste, ingevoer word.

Interessante feite oor katoen

Die woord katoen is ontleen aan die antieke Arabiese woord ‘qutun’, waarmee enige fyn tekstielstof beskryf is.
Wetenskaplik, staan die katoenplant bekend as ‘Gossypium Hirsutum’.
Die katoenplant behoort tot die Hibiscus-familie.
Daar is 42 verskillende variëteite van die katoenplant.
Vanweë die plant se donserige wit saadbolle, word daar na katoen verwys as ‘boomwol’. 





Related Articles