Gevreesde Delta-variant noodsaak vlak 4 inperking

  • 28 June 2021
  • 1616
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dit is die eerste keer sedert 1 Mei 2020 dat die land weer na dié vlak geskuif is en kommer heers oor die impak van die derde vlaag Covid-19-infeksies wat landwyd voorkom. Luidens die jongste amptelike syfers wat Sondagaand (27 Junie 2021) bekendgemaak is, is 15 369 nuwe gevalle en 122 sterftes in die land aangemeld.

Meer oor die Delta-variant

Die Delta-variant is een van vier mutasies of variante wat wêreldwyd fyn dopgehou word.

Dit is dubbel so aansteeklik as die oorspronklike Sars-CoV-2virus wat sy oorsprong in Wuhan, Sjina gehad het, asook die Beta-variant wat tot nou toe die meeste infeksies in die land gedryf het.

ʼn Groot rede tot kommer is dat dit lyk asof die immuniteit wat ʼn persoon opgebou het wat reeds Covid-19 onder lede gehad het, nie goeie beskerming teen dié nuwe variant bied nie. Die risiko vir herinfeksie is gevolglik baie hoër.

Die belangrikheid van immunisering

Navorsingsdata uit Brittanje, waar die Delta-variant vir meer as 90% van nuwe infeksies verantwoordelik is, toon dat dié variant nie noodwendig dodeliker is as ander variante nie.

Volgens prof Tulio de Oliveira, direkteur van die genomika-waarnemingslaboratorium Krisp, blyk dit of entstowwe goeie beskerming teen die variant bied. In Suid-Afrika is die probleem egter dat minder as 5% van landburgers reeds minstens een dosis entstof gekry het. In Brittanje word dié syfer op bykans 65% gestel.

In die lig hiervan het Agri SA onlangs ʼn beroep op die regering gedoen om die landbousektor te prioritiseer met die toediening van die Covid-19-entstof.

“Die regering het gesondheidswerkers, mense ouers as 60 en nou ook onderwyspersoneel vir inentings geprioritiseer sonder om noodsaaklike werkers soos dié in die landbousektor in ag te neem,” sê Christo van Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA. Volgens Van Rheede is produsente en plaaswerkers, wat hoofsaaklik in landelike gebiede woon en werksaam is, meer kwesbaar vir die derde vlaag Covid-19-infeksies.

“Die landbousektor speel ʼn sleutelrol in voedselsekerheid en daarom behoort hierdie sektor ook ingevolge die nasionale ontplooiing van die entstof ʼn prioriteit te wees,” meen Van Rheede en moedig produsente en plaaswerkers vanaf die ouderdom van 60 jaar om vir die entstof te registreer.

Vlak vier-regulasies

Die vlak 4-regulasies, soos wat dit in die Staatskoerant gepubliseer is, sien as volg daaruit:

  • Die landsgrense wat op vlak drie oop was, bly oop.
  • Provinsiale grense bly oop, behalwe vir Gauteng wat tans as ‘n brandpunt beskou word.
  • Alle saamtrekke word verbied. Dit sluit godsdienstige, politieke, kulturele en sosiale saamtrekke in.
  • Mense mag slegs in groepe bymekaar kom vir begrafnisse en verassings (nie meer as 50 mense nie), by die werk (as jy nie van die huis af kan werk nie) en in winkels.
  • Nagwake en saamtrekke na ‘n begrafnis word verbied.
  • Die verkoop van drank vir gebruik op persele of by die huis word verbied.
  • Skole en hoëronderrig-instellings staak op Woensdag, 30 Junie, alle kontakklasse.
  • ‘n Aandklokreël is van 21:00 tot 04:00 van toepassing. Besighede wat nog oop is, moet teen 20:00 sluit sodat werkers tyd het om by die huis te kom.

Ingevolge die regulasies is die volgende plekke vir die volgende twee weke gesluit:

  • Gimnasiums
  • Flieks, teaters, museums en biblioteke
  • Restaurante, behalwe vir wegneemetes
  • Vlooimarkte
  • Basaars
  • Nagklubs
  • Casino’s
  • Sjebiens
  • Konferensiegeriewe
  • Veilings





Related Articles