Gekombineerde benadering nodig vir roofdierbestuur

  • 03 June 2021
  • 615
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Hierdie proses behels die gebruik van alle beskikbare metodes, dodelik én nie-dodelik.

Dit is die gevolgtrekking van Niël Viljoen, ʼn roofdierspesialis, wat reeds sedert 2008 roofdierbewegings op verskeie veemoniteringsplase bestudeer. Hierdie navorsing, wat aanvanklik deur die Wolkwekersvereniging (NWKV) geïnisieer is, het dit ten doel om volhoubare werkswyses te vind om roofdiere doeltreffend te bestuur.

Omdat roofdiere baie slinks en aanpasbaar is vind hulle volgens Viljoen vinnig skuiwergate in ʼn beheermetode en daarom bestaan die uitdaging om ʼn omvattende en deurlopende beheerstelsel te ontwikkel.

Impak van probleemdiere

Volgens Viljoen se navorsing is die rooijakkals, ʼn aasdier, die vernaamste probleemdier en is die dier verantwoordelik vir ongeveer 68% van die verliese wat by die veemoniteringsplase aangemeld is. Die rooijakkals se voorkeurprooi is lammers van 30 kg en kleiner.

In die geval van die groter rooikat, wat nie ʼn aasdier is nie, word groter prooi aangeval wat swaarder is as 30 kg, soos gespeende lammers of volgroeide ooie.

Viljoen sê dat 68% van die verliese wat oor die tydperk vanaf 2008 tot 2018 by die veemoniteringsplase aangeteken is, lammers voor speentyd was, gevolg deur gespeende lammers (22%), jong ooie en ramme (4%), ooie (4%) en hamels (2%). Gedurende dieselfde tydperk het die koste van verliese op die plase waar Viljoen sy navorsing doen van R1,10 miljoen (2008) per jaar afgeneem tot R462 100 per jaar (2018) terwyl die koste van roofdierbestuursprogramme toegeneem het vanaf ongeveer R258 000 per jaar (2008) tot R1,54 miljoen (2018).

Beheerstelsels

Oor die bestek van 13 jaar het Viljoen die volgende beheerstelsels geïdentifiseer en in sy navorsing beproef:

  • Beskermende halsbande soos Protect a Lamb, Celmax Collars, E-Shepheard, Agri Alert en Hot Group Collars.
  • Afskriktoerusting soos Jackal Chaser, Skaapwagter, ligte, sirenes en klokke, wagdiere soos honde, donkies en alpakkas.
  • Jakkalswerende en elektriese heinings.
  • Menslike skaapwagters bedags en snags.
  • Die kraal van diere snags en bedags.
  • Blokjag in afgebakende gebiede.
  • Vangapparate soos vangysters.
  • Opgeleide jaghonde in georganiseerde en beheerde jagtogte.
  • Toksiese halsbande.
  • Lugjag met ʼn helikopter.
  • Professionele roep en skiet, bedags en snags.
  • Vanghokke.

“Boere moet onthou dat die sukses van enige van hierdie metodes slegs afhanklik van die bestuursvermoë van die boer is,” sê Viljoen en voeg by dat dit voorts belangrik is om te weet dat die sukses van vandag, môre se mislukking kan word. Hy maan produsente om aanpasbaar te wees en herbeklemtoon dat sy navorsing toon dat deurlopende, voorkomende en volhoubare roofdierbestuur gekombineer moet word met verskillende bestuursmetodes.






Related Articles