Elke druppel help damvlakke aan

  • 10 November 2020
  • 1462
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Luidens ʼn verklaring van die Departement van Water en Sanitasie daal die land se damvlakke die afgelope vyf maande weekliks met gemiddeld 1%, wat ʼn daling van sowat 12% in die volume water verteenwoordig. Dié tendens is verder bespoedig deur die aanbreek van ʼn baie warm somer.

Volgens Sputnik Ratau, woordvoerder van die Departement, het Gauteng se damvlakke die afgelope twee weke op gemiddeld 92,5% gestabiliseer, terwyl die Vrystaat se damme 69,2% vol is. Drie van die grootste damme in die land is in die Vrystaat, naamlik: die Gariepdam (69,2%), die Vanderkloofdam (87,4%) en die Sterkfonteindam (94,4%).

In KwaZulu-Natal, het die reënbuie wat die afgelope tyd voorgekom het, reeds groot verligting in die droogtegeteisterde gebiede van Umkhanyakude en Zoeloeland gebring. Dié gebiede ervaar sedert die begin van die winter erge droogtetoestande. Die Midmardam in die Natalse Middeland en die Driel Barrage is onderskeidelik 90,4% en 89,3% vol.

Die Noord-Kaap se damme word as stabiel gereken, op 86,1%, gevolg deur Mpumalanga op 64,2%. Noordwes en Limpopo se damme is onderskeidelik 61% en 57,3% vol.

Volgens Ratau bly die Mopani-distrik in Limpopo ʼn bron van kommer, omdat die Middel-Letaba- en Tzaneen-dam se vlakke tot onderskeidelik 0,7% en 9,7% gedaal het. Aan die ander kant bars die Klaseriedam uit sy nate met 100,3%, terwyl die Hans Merensky-dam by Phalaborwa 99,6% vol is.

Goeie neerslae sal na verwagting ook die Oos-Kaapse damvlakke verhoog, nadat dit aan die begin van September tot onder 50% gedaal het. Die vlak van die provinsie se damme staan tans op 48,2%. Damvlakke in die Wes-Kaap sal voorts begin om weekliks met sowat 1% te daal tot 80%, soos die provinsie die einde van sy winterreënseisoen bereik.






Related Articles