Brandstofskok wag vir Jan Publiek

  • 02 August 2021
  • 682
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dit is die tweede agtereenvolgende maand dat petrol ‘n rekordhoogtepunt haal en dit is ook die grootste styging sedert April. Op die keper beskou is dit die sesde keer vanjaar dat petrol duurder word en die sewende keer dat diesel se prys opgaan.

So lyk die jongste wysigings aan die brandstofprys:

•             Petrol (93) is 91c per liter duurder.

•             Petrol (95) is 91c per liter duurder.

•             Diesel (0,05% swael) is 55,58c per liter duurder.

•             Diesel (0,005% swael) is 54,58c per liter duurder.

•             Paraffien is 50c per liter duurder.

•             Gas word 226c per kilogram duurder.

Balansfondsheffing

Dié styging volg nadat die Sentrale Energiefonds ‘n balansfondsheffing van 6,58c per liter bygevoeg het, omdat die balansfonds weens opeenvolgende maande van stygende brandstofpryse reeds R535,1 miljoen in die rooi is.

Die balansfonds is die geld waaruit brandstofmaatskappye vergoed word as die brandstof wat hulle invoer, deur die loop van die maand duurder word nadat die brandstofpryse vir daardie maand vasgestel is. Die balansfondsheffing sal in plek bly totdat die fonds minder as R250 miljoen in die rooi is, wat ‘n paar maande kan duur, veral indien die olieprys aanhou styg en die rand aanhou verswak.

Bydraende faktore

Die grootste rede vir die skerp styging is stygende brandstofpryse in dollar op oorsese markte, maar die swakker vertoning van die rand dra tussen 31c en 35c per liter tot die stygings by. Gedurende die oorsigtyd het die rand teen gemiddeld R14,54 teenoor die dollar verhandel, terwyl dit in die vorige oorsigmaand R13,92 was.

Gevolglik sal die prys van petrol in Gauteng vir die eerste keer ooit meer as R18 per liter kos. Aan die kus sal petrol vir die eerste keer meer as R17 per liter kos.

* Derik Wolmarans, besturende direkteur van Hinterland Fuels, maan verbruikers om vroegtydig hul tenks vol te maak ten einde die impak van dié prysverhoging te help beperk. #Senwes #Hinterland #HinterlandFuels






Related Articles