Brand saai verwoesting in Potchefstroom-omgewing

  • 13 August 2021
  • 872
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens die Potchefstroom Herald het die brand vroeg Sondagoggend, 8 Augustus 2021, sowat 15 km buite Ventersdorp ontstaan en is dit deur ʼn sterk wind in die rigting van Potchefstroom gewaai.

Dr. Kobus Roux, voorsitter van die brandbeskermingsvereniging van Potchefstroom, vermoed die brand – wat eers ʼn dag later onder bedwang gebring is, is langs die teerpad gestig. Die aanvanklike skadebepaling dui daarop dat nagenoeg 20 000 ha vernietig is en dat produsente miljoene rand se skade gely het. Die skade sluit onder meer verliese in infrastruktuur, landboutoerusting en weiding in.

So ervaar produsente die brand

Die verwoestende brand het produsente in dié omgewing baie skade berokken, en verskeie produsente hul verslaentheid en hartseer in die media te kenne gegee.

Casper Botha was van plan om die week sy mielies te oes, nadat hy die proses uitgestel het omdat die voginhoud van sy mieliekoppe nog te hoog was. Hy moes tevergeefs toekyk hoe die brand sy 130 ha mielies verwoes het. Hy sê die brand was intens omdat daar baie meer droë gras in die veld was na die goeie reënseisoen verlede jaar.

Jan Labuschagne se hele plaas het afgebrand. Dit sluit die 180 ton mieliekoppe in sy skuur in, wat tot as verbrand het. In die 20 jaar wat hy boer, is dit die eerste keer dat hy so grootskaalse verlies beleef.

Gemeenskap staan saam

Volgens Pieter Nel, gebiedshoof van die brandbeskermingsvereniging noord van Potchefstroom, sê mense in die omgewing het almal saamgestaan en hulp verleen. Hy het ongeveer 25 bakkies met vuurvegters getel en twee spanne van Working on Fire (WOF) het uitstekende werk verrig. Die brandweer van Potchefstroom en die berede-eenheid van die polisie het ook saamgewerk.

Dr. Kobus Roux, voorsitter van die brandbeskermingsvereniging van Potchefstroom, bevestig dat geen sterftes aangeteken is nie. Twee lede van die WOF-span is egter vir brandwonde behandel.

Hy glo dat die vuur beter beheer kon word as al die boere voorsorg getref het en brandbane geskoffel het. Hy moedig boere aan om aan ʼn brandvereniging te behoort wat vir hulle hierdie brandbane teen ʼn minimale bedrag kan voorberei.

* Die volle omvang van die skade eers later bepaal kan word. Vir die volledige artikel besoek: https://bit.ly/3AGDBxy





Related Articles