Bonsmara SA blink uit as topstoettelers

  • 06 January 2021
  • 1081
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Uit die 10 finaliste wat meegeding het om Vleissentraal en Stamboek se eerbewys vir Stoetteler van die Jaar, was nege Bonsmaratelers. Die nege Bonsmara-finaliste was:

  • Francois Swart: Northam, Limpopo
  • Daan Viljoen en seuns: Clarens, Vrystaat
  • Gert en Gerhard Nel: Bloemfontein, Vrystaat
  • Thinus Maritz: Vaalwater, Limpopo
  • Frikkie Kruger: Boshof, Vrystaat
  • Schalk van der Merwe: Christiana, Noordwes
  • Freddie MacDonald: Van Zylsrus, Noord-Kaap
  • Fourie Scheepers: Fouriesburg, Vrystaat
  • Christopher Melamu: Reivilo, Noordwes

Die wenner was Christopher Melamu, en dié besondere prestasie volg nadat sy stoetery, Lamus-Bonsmaras in 2012 by die Bonsmara-beestelersgenootskap van Suid-Afrika geregistreer is.

Volgens Louis Steyl, die uitvoerende hoof van Bonsmara SA, word die kriteria van die eerbewyse op so ʼn wyse saamgestel dat alle aspekte van stoetboerdery in ag geneem word. Om dié rede bewys die Bonsmaratelers se prestasies dat hulle die behoeftes van hul kommersiële kliënte baie ernstig opneem, en daarna streef om diere te teel wat tot voordeel kan wees in enige van die uiteenlopende omgewings binne Suid-Afrika.

Unistel en SA Stamboek se Ontwikkelende Teler van die Jaar was Bookholane Mokoena van Boggie-Bonsmaras in Nigel. Mokoena het in 2016 tot die stoetbedryf toegetree en is daarop toegespits om sy kudde uit te brei en geneties te verbeter. Volgens Steyl dien hierdie eerbewys as ʼn aansporing vir nuwe toetreders tot die bedryf. Dit beklemtoon ook voorts dat die kennis en ondersteuning van mentors en die korrekte aanwending van planne en raad enigeen kan help om die leer na sukses in die beesbedryf te klim.

Nog applous vir Bonsmaratelers

Bonsmaratelers het ook tydens die Suid-Afrikaanse vleisbedryfmaatskappy, Samic, se nasionale karkaskompetisie beïndruk. Bonsmara het skoonskip gemaak deur die eerste plek in die enkelkarkas- en groepkarkas-kategorie te behaal. Albei dié plekke is aan Niel Harvey van Ottawa Ranches toegeken.

Die enkelkarkas-kategorie vir opkomende boere is deur Tito Mongwaketsi gewen, wat ook ʼn derde plek in die groepkarkas-kategorie vir opkomende boere behaal het.

ʼn Span van die Universiteit van Pretoria het die enkelkarkas-kategorie in die studentekompetisie met ʼn Bonsmara-kruiskalf gewen.

* Ses Bonsmara-, twee Beefmaster-, ʼn Angus- en ʼn Drakensbergstoetery is tydens die SA Stamboek se Elite-prysuitdeling as die land se tien beste vleisbeeskuddes aangewys.

 






Related Articles