Weerdiens waarsku oor nog bibberweer

  • 20 Julie 2021
  • 829
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die land is sedert die week van 12 Julie in die greep van ʼn reeks koue fronte, en die kwik het plek-plek tot ver onder vriespunt gedaal.

Johan van den Berg, ʼn onafhanklike landbouweerkundige, verduidelik dat hoewel die gemiddelde minimum temperature in 2020 dalk laer was as wat tot dusver ervaar is, die uiterste temperature wat die afgelope week in sekere gebiede aangeteken is baie naby aan rekordlaagtepunte was.

Dié koue toestande sal volgens Van den Berg voortduur en voorspel hy dat die kruin van die koue toestande in die laaste week van Julie bereik gaan word, waarna dit geleidelik warmer kan word.

Wees bedag op dié toestande
Van den Berg meen dat soos dit warmer word, die risiko vir rypskade baie groot word aangesien plante begin ontwaak en bot. ʼn Skielike koue tydperk van ʼn dag of twee kan gevolglik ernstige skade veroorsaak. Hierdie toestande word vanaf die laaste paar dae van Julie en veral in die eerste helfte van Augustus verwag.

Frontale stelsels gaan oor die volgende ses weke steeds die land se weerstoestande beïnvloed en reën oor die winterreënstreek veroorsaak.

Volgens Van den Berg se voorspelling kan temperature voorts vanaf die tweede deel van Augustus af begin styg, maar skielike dalings in temperature sal tot ten minste die eerste week van September moontlik wees.

Internasionale weertendense

Dit is belangrik om kennis te neem van internasionale weertendense omdat dit as voorlopers kan dien vir wêreldwye weerpatrone.

Goeie vooruitsigte bestaan volgens Van den Berg vir die volgende twee weke. Dit voorspel goeie nuus vir reënvalverwagtings in Suid-Afrika later in die seisoen, gegewe die groot ooreenkomste met reënval in die oostelike en suidelike dele van Australië.

In Amerika het daar in die eerste deel van Julie beter reënvaltoestande voorgekom, terwyl siklone in die suidoostelike dele tot ernstige vloedskade in Florida en die aangrensende dele tot gevolg gehad het. Wat die somergraangebiede betref, is dit steeds baie droog in die noordelike gedeeltes van Minnesota en Noord-en Suid-Dakota, wat baie swaar kry met min reën.

Wat die vloede in dele van Europa, veral in dele van Duitsland en Nederland, betref, dui voorspellings aan dat swaar reën steeds daar gaan voorkom, maar meer suid gaan beweeg. Die noordelike dele van Italië en die aangrensende dele van Frankryk, Switserland, Duitsland en Oostenryk gaan in die komende weke deur swaar reën geraak word.





Verwante Artikels