Skerp styging in internasionale voedselpryse gedurende September

  • 19 Oktober 2020
  • 1181
  •  senwes
  •  
  •  nuus



Internasionale prysindeks

Die graanprysindeks het vanaf Augustus met 5,1% gestyg en verhandel nou 13,6% hoër as ʼn jaar gelede. Hierdie styging kan toegeskryf word aan hoër koringprys skattings te midde van toenemende kommer oor produksievooruitsigte in die suidelike halfrond, sowel as droë toestande wat die saai seisoen in Europa beïnvloed.

Mieliepryse het ook wêreldwyd gestyg, as gevolg van laer produksievooruitsigte in die Europese Unie en ʼn afwaartse hersiening van oordragvoorrade in Amerika. Die pryse van sorghum en gort het ook gestyg, terwyl die prys van rys gedaal het.

Die groenteprysindeks het ʼn styging van 6% getoon en verhandel tans op sy hoogste vlak in agt maande. Dit volg nadat die prys van palm-, sonneblomsaad en soja-olie toegeneem het as gevolg van ʼn toename in internasionale aanvraag.

ʼn Afname van 0,9% is in die vleisprysindeks te bespeur en kan toegeskryf word aan Sjina se besluit om die invoer van varkvleis uit Duitsland te verbied na ʼn uitbreek van Afrika-varkpes.

Die suiwelprysindeks het byna onveranderd verhandel gedurende September.

In reaksie op die aankondiging van ʼn verwagte wêreldwye suikerproduksie-oorskot gedurende die komende seisoen, het die suikerprysindeks met 2,6% gedaal. Dié oorskot volg na ʼn beduidende toename in produksie in Indië en Brasilië.

Graanmarkte

Die VLO het sy skatting vir die globale graanproduksie effens aangepas, en dit word nou op 2 762 miljoen ton vir 2020 gestel. Hierdie voorspelling is steeds 2,1% hoër as gedurende 2019.

Dié nuwe skatting, soos uiteengesit in die VLO se graanaanbod en -aanvraag, beklemtoon die verwagte afname van 0,5% in die produksie van sogenaamde growwe graan as gevolg van weersinvloede op mielieoeste in verskeie lande.

Wêreldwyd word die koringproduksie vir 2020 op 765 miljoen ton geskat. Hierdie skatting verteenwoordig ʼn rekordhoogtepunt.

Rysproduksie word op 509,1 miljoen ton geskat, wat onveranderd is van die skatting wat in Augustus gemaak is. 





Verwante Artikels