Die koers is in September net effens hoër vasgestel as die 4,9% van Augustus en is nou die tweede hoogste van die jaar, nadat inflasie in Mei met 5,2% gedaal het.
Die volgende faktore speel ʼn rol in die styging van die inflasiekoers:
- Vervoer: die grootste rede vir die styging van die inflasiekoers is die 10,1%-styging in die vervoersektor. Dit is grootsliks deur die skerp styging in brandstofpryse opgedruk, terwyl die vervoerinflasie in Augustus ook hoog was op 9,9%.
- Kosprysinflasie het in September effens teruggesak tot 6,6% teenoor Augustus se syfer van 6,9%. Vleis is gemiddeld 10,3% duurder as verlede jaar en die prys van vette en olies is ongeveer 22,4% duurder.
- Kerninflasie, wat kos, energie en krag weglaat, het met 0,1 van ʼn persentasiepunt, van 3,1% tot 3,2% gestyg.
Hoewel die inflasiekoers nog binne die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6% is, probeer die sentrale bank inflasieverwagtinge deesdae op 4,5% of selfs laer anker. Heelwat ekonome verwag dat die rentekoers op 18 November verhoog gaan word, ten spyte van die toenemende verwagtinge vir ekonomiese groei.
Addisionele statistieke
- Pensioentrekkers beleef inflasie van 4,9% (StatsSA).
- Die armste huishoudings beleef 6,6% en die rykste huishoudings 5,1%.
- Provinsiaal wissel inflasie vanaf 4,9% in Mpumalanga, Gauteng en die Vrystaat tot en met 5,7% in Noordwes.