Brandstofprys styg skerp in Desember

  • 30 November 2021
  • 674
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dié prysverhoging kom te midde van die rand se verswakking teen die dollar oor die afgelope maand, asook stygende oliepryse. Diesel se groothandelprys sal met 72,5c per liter verhoog, terwyl die prys van paraffien in Desember met 42,2c per liter duurder sal word.

So word verhogings bereken

Nog ʼn bydraende faktor is die jaarlikse verhoging in die gereguleerde winsmarge vir raffinaderye en groothandelaars. Die winsmarge is met 17,84c per liter verhoog op petrol en met 8,2c per liter op diesel en paraffien. Hierbenewens is daar ook 26,3c per liter in die totale verhoging vir die kumulatiewe balansrekening ingewerk.

Hierdie balansrekening word ingevolge die brandstofprysformule bygehou en word gebruik om oliemaatskappye te vergoed vir die wisselings in markpryse nadat maandelikse pryse reeds vasgestel is. Daar was teen einde Oktober ʼn negatiewe balansrekening van R4 689 miljard, wat beteken dit is geld wat motoriste eintlik aan die brandstofmaatskappye skuld.

Impak van die rand en Brent-ruolieprys

Die rand het gemiddeld van R14,72 tot R15,85 teen die dollar verswak in die tydperk waarop die jongste prysverandering gegrond is.

Terselfdertyd het die gemiddelde Brent-ruolieprys van $82,50 per vat tot $83 per vat gestyg.

Op die keper beskou kan die groter internasionale vraag na olie toegeskryf word aan ekonomiese herstel te midde van swakker produksie deur olieproduserende lande. Amerika en ander groot olieverbruikerlande probeer intussen om olie uit hul strategiese voorraad vry te stel om die hoë brandstofpryse hok te slaan, maar olieproduserende lande weier om hul produksie te verhoog in reaksie op die herstel in olievraag.

* Die oorspronklike artikel was deur Netwerk24 gepubliseer.





Verwante Artikels