Grondkarteringsdienste
Hulpbronopnames is van strategiese belang vir die produsent vir effektiewe bestuur en besluitneming op die plaas. Senwes Landboudienste lewer die volgende hulpbronopname-dienste aan die produsent ten einde risiko te voorkom en waarde toe te voeg tot die produsent se onderneming:
DGPS-oppervlaktebepaling (ha)
Oppervlaktes van lande en kampe word met behulp van ‘n DGPS-stelsel (WGS 84 Datum), wat submeter akkuraat is, bepaal. Die stelsel is versoenbaar met die meeste GIS kartering-sisteme en verseker akkurate oppervlakte waardes. Hierdie stelsel is belangrik vir die produsent om:
- Die hoeveelheid insetmiddele vir die produksieproses akkuraat te bepaal.
- Kontraktering van dienste soos stroop- en spuitaksies akkuraat sonder om onnodige dispute te beding.
- Aansoeke om produksiekrediet en versekering te bespoedig.
Voorbeelde


Grondklassifikasie/Grondpotensiaalbepaling
Die fisiese eienskappe van die grond, gekoppel aan die klimaat van die betrokke distrik, word gebruik om die potensiaal van die lande te bepaal. Waarnemings word vasgelê met behulp van ‘n ruitpatroon sodat die resultate gekarteer en twee-dimensioneel voorgestel kan word.
Aanwending
- Variasies oor die land word uitgebeeld.
- Lande kan verdeel word in homogene produksiesones.
- Lande word geidentifiseer wat hoë risiko vir kontant-gewasproduksie inhou, sodat dit onttrek kan word om eerder aangeplante weidings te vestig.
- Areas met ‘n hoë produksie potensiaal kan geidentifiseer word, sodat toepaslike toedienings gemaak kan word om opbrengs te optimaliseer (met ander woorde spandeer geld waar geld gemaak kan word).
- Areas met ‘n lae produksie potensiaal word identifiseer, sodat toepaslike laer produksie-insette gemaak kan
word (met ander woorde moenie oor-investeer waar die opbrengs nie kostes sal dek nie).
Voordele
- Optimale grondbewerkingspraktyke kan toegepas word.
- Die produsent het beter insae in sy hulpbronne en kan risiko’s beter bestuur.
- Dit stel die produsent in staat om presisieboerderybeginsels en variërende toediening van
bemestingstowwe en onkruiddoders toe te pas.
Voorbeelde


Grondmonsterneming
Grondmonsters word op verskillende ruitpatrone geneem naamlik:
- 200 m x 200 m (4 ha);
- 141 m x 141 m (2 ha); of
- 100 m x 100 m (1 ha).
In spesiale gevalle, byvoorbeeld hoë-waarde besproeiingsgewasse, kan ‘n 50 m x 50 m ruitpatroon ook gebruik word.
Dit word aanvaar dat weens die praktyk van bandplasing van bemestingstowwe, daar ‘n groot variasie kan wees in die voedingselementvlakke oor kort afstande oor die plantry. Dit kan aansienlike verskille in die ontledingsresultate veroorsaak. Dus word daar by elke monsternemingspunt ses submonsters geneem wat deeglik vermeng word en waaruit ‘n saamgestelde monster dan getrek word vir laboratoriumontleding. Dit word gedoen om te verseker dat ‘n verteenwoordigende monster getrek word.
Elke monster word afsonderlik ontleed waarna die resultate gekarteer en twee-dimensioneel voorgestel word.
Voordele
- Die ruimtelike verspreiding van die verskillende elemente in die land kan duidelik waargeneem word.
- ‘n Duidelike weerspieëling van waar probleemareas voorkom.
- Die kalkbehoeftes van die land word duidelik voorgestel, asook die tipe kalk (kalsities en/of dolomities) wat toegedien moet word.
- Die voedingselementbehoeftes van verskillende sones word aangetoon.
- Gekoppel aan die opbrengspotensiaal data, kan aanbevelings gemaak word ten opsigte van gepaste aanvullings om tekorte reg te stel.
- Sodanige kaarte vorm die basis van presisieboerderytegnieke.
Hierdie metode van monsterneming en regstellende bemesting verhoog opbrengste en bring groot kunsmisbesparings mee. Dit verleng ook die volhoubaarheid van die hulpbron.
Voorbeelde



Plaaskaarte
Hierdie kaarte word gedruk op die toepaslike grootte papier (afhangende van die detail, plaasgrootte en kliënt se behoefte) en word gelamineer of geraam.
Wat die produk behels:
- Alle oppervlaktes (ha) soos lande, kampe, gange, uitvalle ensovoorts word aangedui.
- Die hektare aangedui op die kaarte is met DGPS opgemeet en akkuraat.
- Alle plaasinligting soos opstalle, krippe, windpompe ens is geografies reg geplaas.
- Samestelling van die kaart is volgens kliënt se behoefte, veral ten opsigte van numering en kleure van bv
lande, kampe, aangeplante weiding. - Verskeie kaartgroottes vanaf A4 tot A0 (841 m x 1 189 mm).
- A4-beplanningskaarte (in kleur of swart & wit).
- Toepaslike lugfoto’s (indien beskikbaar vir die betrokke plaas).
‘n Elektroniese formaat van die kaarte is ook beskikbaar vir gebruik.
Voorbeeld

Spesiale ondersoeke
Die Hulpbron-divisie het ‘n wye reeks kundigheid beskikbaar. Die grondkarteerders is lede van die Suid-Afrikaanse Grondopnemers Organisasie (SAGO) en het baie jare ondervinding.
Bo en behalwe die kundigheid in die landbousektor, is daar ook kundigheid om ‘n reeks spesiale ondersoeke te doen op aanvraag.
Die divisie is ook by uitstek gekwalifiseerd om besproeiingsondersoeke (grond- en klimaatbepalings) te onderneem vir nuwe projekte sowel as bestaande eenhede om probleme te voorkom en/of die volhoubaarheid daarvan te verseker.
Dienstariewe en kapasiteit
Dienstariewe is markverwant en word jaarliks aangepas. Tariewe word met die produsent gekontrakteer op grond van die dienspakket verlang en die omvang van die diens.
Omdat die hulpbrondienste hoog in aanvraag is, vermy teleurstelling en doen vroegtydig aansoek vir hierdie diens.