Waardeketting in die knyp na verlenging van drankverbod

  • 19 Januarie 2021
  • 904
  •  senwes
  •  
  •  nuus



Hoewel die meeste van die regulasies onveranderd gebly het, het die president aangekondig dat die land se 21 grensposte tot en met 15 Februarie gesluit sal wees. Dié grensposte word gesluit omdat die groot opeenhoping van mense bydra tot die drastiese toename in nuwe infeksies.

Die aandklokreël sal steeds om 21:00 in werking tree, maar sal voortaan om 05:00 eindig en nie om 06:00 soos tot dusver die geval was nie.

Die president het ook aangekondig dat die derde drankverbod, wat twee weke gelede ingestel is, onbepaald verleng word.

Uitklophou vir plaaslike alkoholbedryf

Verskeie rolspelers in die wyn- en alkoholbedryf het die verlenging van die verbod betreur en is van mening dat die aankondiging die bedryf in ‘n krisis dompel.

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, meen die president het die bedryf ʼn “verwoestende knou” toegedien en is van mening dat daar werkbare alternatiewe bestaan wat oorweeg kon word. Hy sê voorts dat die bedryf nog sukkel om sy voete te vind na die aanvanklike 18-weke verbod op die verkoop, verspreiding en verbruik van alkohol wat met die aanvang van die Covid-19-pandemie aangekondig is. Hy reken dat gegewe die beduidende voorraadvlakke die waarskynlikheid bestaan dat die volle oes nie verwerk sal kan word nie.

Vinpro het vroeër aangedui dat die bedryf reeds met ʼn oorskot van 250 miljoen liter ongekontrakteerde wyn gekonfronteer word, terwyl die 2021-oesseisoen pas begin het. Verliese van meer as R7,5 biljoen is ook aangeteken in terme van verkope, werksverliese, ondergang van verskeie kelders en die afskaling van toerisme-aktiwiteite. In die lig hiervan is Vinpro besig om regshulp teen die verbod in te win.

Op sy beurt het die Biervereniging van Suid-Afrika in ʼn verklaring gesê dat hy die verlenging van die verbod verwerp en dat die verbod die einde van baie mikrobrouerye sal wees. Die bedryf het gehoop dat drankverkope van drankwinkels af, in teenstelling met verkope in kroeë en restaurante, weer toegelaat sou word omdat dit net so veilig as kruideniersware geskied en dat mense veilig in die privaatheid van hul eie huise kan drink.

Volgens die verklaring onderhou die bierbedryf ongeveer 415 000 mense, en behoort maatreëls om die verspreiding van die koronavirus te beperk nie mense se bestaanswyse nadelig raak nie. ʼn Dringende vergadering met die presidensie en sekere ministers word versoek om die redes te verstaan wat tot die verlenging van die verbod gelei het.

AgriSA het by monde van sy uitvoerende direkteur, Christo van Rheede, ook sy misnoeë teen die verlening van die verbod uitgespreek. Van Reede voer aan dat die verlenging nie net gaan aanleiding gee tot onwettige wyn- en alkoholbedryf nie, maar ook die waardeketting in totaliteit gaan benadeel.

In ‘n verklaring bepleit dié landbou-organisasie groter samewerking tussen die regering en die wyn- en alkoholbedryf, terwyl hy meen dat die fokus eerder op die verantwoordelike gebruik van wyn en alkohol moet wees ter wille van die behoud van die lewensvatbaarheid van die waardeketting.

Volgens president Ramaphosa is die feit dat die getal trauma-gevalle by hospitale regoor die land beduidend afgeneem het sedert die instel van die drankverbod ʼn genoegsame rede vir die verlenging van die verbod.






Verwante Artikels