Swerms bruinsprinkane in Karoo fyn dopgehou

  • 01 Desember 2020
  • 374
  •  
  •  
  •  nuus



Hoewel groot swerms al aangemeld is, meen dr Gerhard Verdoorn, hoof van bedryfsake en rentmeesterskap van CropLife SA, dat die huidige uitbreking nog nie so groot is soos die uitbreking in 1986 nie.

Volgens Verdoorn kom die swerms veral voor in die Sentraal-Karoo rondom Hanover en Middelburg tot by Aberdeen, Graaff-Reinet en Cradock. Daar is volgens Verdoorn nog nie probleme in die noordweste van die Karoo nie, aangesien dié gebiede steeds baie droog is. Hy voeg by dat die departement van landbou hierdie huidige swerms suksesvol sal kan bekamp.

“Boere moet voortgaan om die swerms by hul distriksbeamptes en by die departement van landbou op De Aar aan te meld, want ons wil nie te doen hê met massiewe swerms nie. Dit is nog vroeg in die seisoen en daar is nog twee of drie generasies wat na dié swerms kan volg,” sê Verdoorn.

Meld uitbrekings aan

Verdoorn meen daar is genoeg sprinkaanbeamptes met voertuie en rugsakke en produsente moenie self probeer om die swerms te spuit nie. Die gebruik van verkeerde middele kan skadelike gevolge vir die omgewing inhou. Die departement van landbou kan doeltreffend optree en met die regte spuitmetodes is die omgewingskades baie min.

Boere kan vir Verdoorn ʼn direkte WhatsApp met foto’s van die swerm en die plaas se naam na 082 446 8946 stuur.

Kyk hier na ʼn video van die sprinkaanswerms (LandbouTV):  






Verwante Artikels