Sprinkane bedreig graanoeste in Noord-Kaap

  • 19 Februarie 2021
  • 1261
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens dr Gerhard Verdoorn, hoof van bedryfsake en rentmeesterskap by Croplife SA, is dit veral produsente in die Oranjerivier-gebied wat die swaarste getref word. Hy meen voorts dit is kommerwekkend dat die sprinkane amper gereed is om eiers te lê. Indien die uitbreek nie effektief bestuur word nie, en die sprinkane hul eiers onverpoosd lê, sal daar in Augustus ʼn “massiewe” probleem wees. Die uitbreek word toegeskryf aan die abnormale nat toestande wat tans in dié gebiede voorkom.

Spuitspanne werk onverpoosd

Spuitspanne werk op die oomblik onverpoosd om die plaag onder beheer te bring. Volgens ʼn artikel in Landbou.com het produsente in die geaffekteerde gebiede reeds sowat 14 000 liter insekdoder uitgespuit. Die spanne se grootste prioriteit is om die swerms van besproeiingsgebiede weg te hou.

Die sprinkane se vlieërstadium is 76 dae lank en gedurende hierdie tyd kan die wyfies tot ses keer eiers lê. Hulle lê ongeveer 380 eiers op ʼn slag.

Meld swerms dadelik aan

Dr Verdoorn maan produsente om op die uitkyk te wees vir swerms en om dit onmiddellik aan te meld. Hy gee die versekering dat daar genoeg insekdoder beskikbaar is en spuitspanne opgewasse is om die huidige uitbreking te bekamp.

Produsente wat sprinkane opmerk, moet dit dadelik by die departement van landbou se sprinkanekantoor in De Aar aanmeld deur 084 760 8176, 053 631 3122 of 053 631 3261 te skakel.

Kyk gerus dié video wat toon hoe groot die swerms tans in die geaffekteerde gebiede voorkom, is: https://youtu.be/pe68_pK14j0 (Video: Landbou.com)






Verwante Artikels