Senwes kossambreel-projek bring verligting tydens koronaviruspandemie

  • 17 Augustus 2020
  • 1164
  •  Senwes
  •  
  •  nuus




Deur dié kosintervensie is daar reeds meer as 139 907 mense gevoed. Op die keper beskou, verteenwoordig hierdie skenkings reeds meer as 314 ton witmielies wat verwerk is tot 12 537 sakke mieliemeel. Elke sak weeg 5 kilogram.

Gemeenskappe binne die Senwes verspreidingsnetwerk wat reeds baatvind by die projek, sluit ondermeer in: Allanridge, Henneman, Odendaalsrus, Klerksdorp, Kroonstad, Heilbron, Koppies, Vredefort, Parys, Virgina, Ventersburg, Welkom en Wesselsbron. Skenkings is ook gemaak aan voedselprogramme in Gauteng en KwaZulu-Natal.

Meer oor die projek

Die projek verteenwoordig ‘n dinamiese samewerkingsooreenkoms tussen verskeie belanghebbendes binne die landbouwaardeketting en het dit ten doel om voedselsekerheid te midde van die pandemie te verseker.

Senwes hoop om deur hierdie projek en die samewerking van boere, landboubesighede, vervoermaatskappye, verwerkers en verspreidingsentrums ‘n verskil te maak in kwesbare gemeenskappe. Dit volg nadat Francois Strydom, Senwes-groep se uitvoerende beampte, verduidelik dat produsente in gemeenskappe wat by dié inisiatief kan baat vind ‘n paar ton van hul mielie-oes vrywillig skenk, wat gevolglik deur Senwes silo’s ontvang en geberg word. Van hier af vervoer en versprei Senwes se logistieke filiaal, Grainovation, die mielies vanaf die silo’s na meulenaars waar verwerking en verpakking plaasvind.

Senwes het die projek afgeskop deur self ‘n skenking van 14 000 sakke mieliemeel te maak.

Volgens Francois is dit verblywend om te sien hoe die landbougemeenskap hande vat om ‘n verskil te maak. “Die landbouwaardeketting is die hartklop van voedselsekerheid in Suid-Afrika en deur dié projek poog ons om ‘n verskil te maak in die meer as 400 gemeenskappe wat ons bedien,” sê Francois.

Raak betrokke

Produsente wat mielies vir dié inisiatief wil skenk, moet die leweringsnommer 418688 as verwysing gebruik by enige Senwes Grainlink Silo. ‘n Uitdaging word ook aan ander landboudienste en korporatiewe organisasies gerig om tot die projek by te dra. Besoek gerus www.senwes.co.za/avc-food-umbrella om te sien watter ander skenkings gemaak kan word.







Verwante Artikels