Senwes en vennote dra by tot droogtehulp in Noord-Kaap

  • 17 Desember 2020
  • 1310
  •  senwes
  •  
  •  senwes-equipment



Dit is ʼn droogte en gepaardgaande swaarkry waarvan baie mense nie eens bewus is nie, wat nog te sê die omvang daarvan probeer verstaan. ʼn Verwoestende droogte wat mens en dier op hul knieë het. Plek-plek in dié gebied, wat in 2019 tot ʼn rampgebied verklaar is, het daar vir die vyfde agtereenvolgende jaar slegs 50mm reën geval.

Ondanks onlangse wydverspreide neerslae lyk sake egter steeds benard en verskeie gebiede het nog nie eens die helfte van die normale reënval ontvang nie. Gevolglik moes veeboere reeds hul kuddes met tot 50% verminder, terwyl die gebrek aan water gewasprodusente verhoed om kontantgewasse aan te plant.

Senwes gerat om nood te help verlig

Die Senwes Groep is toegewyd tot die ondersteuning van klante en die gemeenskappe wat deur rampe en teenspoed geraak word. In die lig hiervan word hulpverlening, onder die vaandel van die AVC Food Umbrella-projek, aan produsente in Calvinia, Brandvlei, Kenhardt en Pofadder gelewer.

ʼn Samewerkingsooreenkoms tussen Senwes se besigheidseenhede; Senwes Equipment en Senwes Grainlink, tesame met John Deere Financial en KLK Landbou Beperk maak dit moontlik vir die Groep om 160 ton witmielies na die gebiede te stuur. Die eerste vrag behoort op Donderdag, 17 Desember, by Kenhardt afgelewer te word, terwyl Brandvlei, Calvinia en Pofadder hul skenkings op Vrydag, 18 Desember, sal ontvang.

ʼn Verdere skenking van 150 Kersfeesbokse aan families in die gebiede, is moontlik gemaak deur die Rotariërs (Distrik 9370). Hierdie bokse bevat kruideniersware. Volgens Wally Jacobs, van die Rotariërs, is die organisasie trots om deel te wees van hierdie noodlenigingsprojek. Hy verduidelik dat die organisasie, deur hul betrokkenheid, hul waardering uitspreek vir die belangrike rol wat die landbousektor in die Suid-Afrikaanse ekonomie speel. “Deur saam te werk en hande te vat glo ons dat ons ʼn positiewe verskil kan maak in die lewens van diegene wat deur die droogte geraak word,” sê Jacobs en wens alle betrokkenes ʼn geseënde feestyd en ʼn voorspoedige nuwe jaar toe.

Volgens Francois Strydom, Groep Hoof Uitvoerende Beampte, is die AVC Food Umbrella-projek in die lewe geroep met krisistye soos hierdie in gedagte: ʼn tyd waarin mense hoop én hulp nodig het. Hy bedank voorts almal wat by die noodlenigingsprojek betrokke is. “Ek lig my hoed vir elke persoon en instansie wat by hierdie uitreik-aksie betrokke is. Hulle het nie net hul tyd en hulpbronne aangebied nie, maar ook hul passie en omgee vir die sektor”.

Tydens die koronaviruspandemie het dié projek verseker dat meer as 151 000 kwesbare individue, regoor die land, met voedselhulp bygestaan is. Senwes produsente en korporatiewe vennote het meer as 480 ton mielies geskenk wat verwerk is tot 17 695 sakke mieliemeel (5kg sakke). Ten tye van die onlangse brande in groot dele van die Vrystaat en Noord-Kaap, het die Groep, deur middel van die projek, 102 ton sifsels aan geaffekteerde produsente beskikbaar gestel. Hierdie skenking is vir die versorging van lewendehawe gebruik.

Ramp beïnvloed totale landbouwaardeketting

Volgens Agri Noord-Kaap heers die ramptoestand in 70% van die Noord-Kaap, met die uitsondering van slegs ʼn klein deel van dié provinsie wat nie kritiek is nie. Dit sluit dorpe langs die N1-snelweg, soos Colesberg, Richmond tot by De Aar, en Kimberley tot by Hartswater in.

Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, benadruk die belangrikheid van ondersteuning gedurende hierdie moeilike tyd. “Boere midde-in die droogteramp kan slegs emosioneel staande bly met die ondersteuning van hul gesinne en die gemeenskap,” sê Jansen en voeg by dat gebede en skenkings, van watter aard ook al, nodig is. “Elke bietjie help om ʼn verskil te maak”.

ʼn Landbou Droogteverslag deur Agri SA toon aan dat die landbousektor reeds 31 000 werksgeleenthede en ongeveer R7 miljard in omset tussen 2018 en 2019 verloor het as gevolg van die droogte.

* Hou die Senwes se sosiale media platforms dop vir foto’s en inligting rakende die uitreik-aksie.






Verwante Artikels