Positiewe vooruitsigte vir steenvrugbedryf

  • 20 Oktober 2020
  • 479
  •  senwes
  •  
  •  nuus



Hierdie goeie uitkyk word toegeskryf aan die goeie winterreën wat vanjaar in die meeste dele van die Wes-Kaap geval het, asook goeie winterkoue en matige lentetoestande. Alhoewel die seisoen nog baie jonk is, is produseerders veral opgewonde oor appelkose en pruime. Die droogtetoestande wat gedurende die laaste paar jaar in die Klein-Karoo voorgekom het, is nie heeltemal gebreek nie, maar omdat die beskikbaarheid van water verbeter het, meen produsente dat vanjaar se oes beter sal wees as die van die vorige twee seisoene.

Die aanvanklike oesraming in terme van die uitvoermark, voorspel groter volumes as in die vorige seisoen. Vervolgens die voorspelde oesskattings, op ʼn jaar-to-jaar grondslag:

  • Appelkoosvolumes sal met 23% styg.
  • Nektariens se uitvoere sal na verwagting na 5,6 miljoen kartonne vermeerder.
  • Die perske-oes sal na raming met 5% toeneem.
  • Pruimvolumes sal met 22% toeneem. Dit volg nadat die vorige twee seisoene nadelig geraak is deur die voortslepende droogte en warm weerstoestande.

Volgens Jacques du Preez van HORTGRO, is produsente, verpakkers en uitvoerders daartoe verbind om vanjaar vrugte van uitstekende gehalte te voorsien. Dié waardeketting fokus vanjaar op die normalisering van die bedryf na die uitgerekte droogte en baie aandag word ook aan die doeltreffendheid van prosesse wat met die belangrikste uitvoerhawens verband hou, gegee. “Die bedryf is vol vertroue dat uitdagings die hoof gebied sal word, veral gegewe die impak van die koronaviruspandemie,” sê Jacques.

* HORTGRO is ʼn nisorganisasie vir die bevordering van die Suid-Afrikaanse sagtevrugtemark.





Verwante Artikels