Polisie bekommerd oor vlaag veldbrande in Noord-Kaap

  • 06 Oktober 2021
  • 817
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens ʼn verklaring wat deur Agri Noord-Kaap uitgereik is, het ʼn groot aantal veldbrande die afgelope maande buite beheer in verskeie landboudistrikte gewoed en tot die verlies van duisende hektaar weiding gelei. Kolonel Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, voeg by dat benewens die verwoesting van die weiveld, bekommer die verliese aan vee, infrastruktuur wat afgebrand het en die aantal boere, hul werkers en vrywilligers wat beserings opgedoen het, ook die polisie.

Indien dit bevind word dat brandstigting die oorsaak van die brande was, gee Gamieldien die versekering dat die skuldiges tot die volmag van die wet vervolg sal word. Hierbenewens sal die polisie voortgaan om Agri Noord-Kaap by te staan met die voorkoming en bestryding van misdade wat teen boere en hul eiendom in die provinsie gepleeg word.

“Die strategie vir landelike veiligheid is hoofsaaklik daarop gemik om landelike veiligheid te versterk as ʼn geïntegreerde, daaglikse benadering tot polisiëring, wat aan die behoeftes van die hele landelike gemeenskap aandag gee,” verduidelik Gamieldien.

Volgens Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, beleef die provinsie sy ergste brandseisoen tot nog toe. Boonop vergroot die aanvang van die lentereënseisoen, waar die eerste donderstorms gewoonlik met hewige donderweer en weerlig gepaard gaan, die risiko vir die natuurlike ontstaan van brande.

Jansen benadruk die feit dat die ekonomie van die Noord-Kaap nie die hewige verliese aan produksiepotensiaal kan bekostig nie en voeg by dat 50% van die oppervlakte van die provinsie steeds onder die ramdroogtetoestand gebuk gaan.






Verwante Artikels