Nasie in Gesprek gooi nie net mielies nie…

  • 08 April 2019
  • 680
  •  
  •  
  •  



Kykers was getrakteer met ‘n stapelvoedsel- en styselgeur soos min toe die openingsprogram op Donderdag, 4 April 2019 om 18:00 op kykNET op die mielie- en styselbedryf gefokus het. Aanbieder Theo Vorster het die stroper aan die rol gekry en die spyker reg op die kop…, wel mieliekop geslaan met sy eerste aanmerking dat mense onderskat die groot rol wat die gewas in die totale waardeketting speel. Van onderskat gepraat: Het jy geweet dat in 2018 het Suid-Afrika R148 miljard se landbouprodukte uitgevoer?

In die kontreigedeelte van die program fokus mede-aanbieder Rozanne McKenzie op die dorpie Parys wat bekend is vir kunsgallerye en talle buitemuurse aktiwiteite en dat dit deel vorm van die hart van Suid-Afrika se stapelvoedselproduksie, die Vrystaat. Voorsitter van die ontwikkelingsforum in Parys, Marius Pieters noem dat toerisme so te sê hier op die water ontstaan het en dat boere ‘n integrale rol in werkverskaffing speel en dat landbou uiters belangrik vir die dorp is, en andersom.

Het jy ook geweet? Die Vredefortkoepel in die Parys, Vredefort en Koppies omgewing is een van die grootste impakkraters op aarde en is SA se sewende erfenisterrein. Ons kuier by ‘n veteraanboer in die omgewing, Pieter van der Westhuizen en vir hom is dit lekker om hier op die turfgrond te boer, hoewel hy nooit gedink hy gaan ‘n boer word nie. Sy raad is om eerder ‘n klein stukkie reg te doen, al is die risiko soms hoog. Van boer gepraat. Het jy geweet dit het ‘n produsent in 2017 R1 619 gekos om 1 ton mielies op droëland te produseer, terwyl dit ‘n Argentynse boer slegs *R880 uit die sak jaag. Sien, jy leer elke dag iets nuuts!

Ons maak ‘n draai by die WFM (Wholesome Foods Manufacturing) se styselaanleg in Gauteng waar Leana Barnard ons meer vertel dat hulle slegs eerste graad mielies mag gebruik en dat mieliestysel die grondslag van eintlik talle produkte vorm, selfs braaibrikette, gietyster en bierpoeier. Interessant!

Dan in perspektief het Senwes HUB asook Agbiz voorsitter, Francois Strydom met Theo Vorster gesels. Francois noem dat 40% van al ons proteïen- en kalorieë-behoeftes word uit slegs mielies, koring en rys verkry. Hy glo in ‘n waardeketting benadering en voel dat ieder en elke verbruiker elke dag voor ‘n groot keuse staan, of om ‘n plaaslike geproduseerde produk te koop of ‘n ingevoerde een. Die sukses lê daarin gesetel om waarde en sodoende werksgeleenthede te skep, verbruik te laat toeneem, en dit dan ook verder te stimuleer. Graan SA ekonoom, Dirk Strydom het alles in perspektief vir die kykers geplaas. Mieliestysel word baie gebruik as ‘n verdikkingsmedium maar osn informante in die program deel ons mee dat mieliestysel ook gebruik word in alledaagse produkte soos speserye, gom, verf en braabrikette en deesdae selfs in bioplastiek en biobrandstof.

So indien jy hierdie eerste episode misgeloop het weet jy duidelik nie alles van mielies nie. Moet ook nie die 13-weke lange reeks oor mielies, rosyne, uie, lewende hawe, kwekerye, bosbou, beet, Nampo Oesdag, koring, katoen, pekanneute en sitrus misloop nie. Dit word weekliks, elke Donderdagaand om 18:00 op kykNET gebeeldsend, van nou af tot en met 27 Junie 2019.

Volgende week fokus ons op die rosyntjiebedryf en maak ‘n draai in Upington in die Noord-Kaap. Vir meer inligting of die volledige skedule van hierdie nuwe reeks besoek asseblief die webtuiste www.nasieingesprek.co.za.






Verwante Artikels