Landbouwaardeketting moet nou versterk en ondersteun word

  • 21 Julie 2021
  • 515
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dit is volgens ʼn opname deur die georganiseerde landbou-organisasie, Kwanalu.

Volgens Sandy La Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, stel dié opname se bevindinge die organisasie in staat om saam met Agri SA hulp toe te wys aan die gebiede in die provinsie wat dit die nodigste het. Terselfdertyd word belangrike handelsroetes ook geïdentifiseer wat heropen moet word om produksie en die lewering van kos te bewerkstellig asook die landbouwaardeketting te beveilig.

Impak van gewelddadige protesaksie en plundering

In terme van voedselsekerheid toon die opname dat 64% van dorpe in die provinsie erge voedseltekorte ervaar, 32% van dorpe matige voedseltekorte beleef en, dat slegs 4% van dorpe seker is van ʼn voedselvoorraad.

La Marque sê die sluiting van die N3, die provinsie se primêre poort vir die beweging van produkte, het ʼn katastrofiese uitwerking op produsente, landboubesighede, kleinhandelaars en die hele landbouwaardeketting gehad. Dieselfde geld vir die sluiting van verskeie verspreidingsentrums vir verpakking, voer en komposopberging terwyl die brandstoftekort ook die provinsiale ekonomie ʼn groot terugslag besorg het.

Volgens La Marque het die plundering en onluste nie net in groot stede en dorpe voorgekom nie, maar ook in kleiner gemeenskappe dwarsdeur die provinsie.

“Die situasie kon baie erger gewees het as produsente en gemeenskappe nie saamgestaan het om dit wat van hul dorpe oorgebly het, te beskerm nie,” sê La Marque en voeg by dat Suid-Afrikaners hul harte én beursies oopgemaak vir geaffekteerde gemeenskappe.

Hulp van oraloor benodig

“Die landbousektor kan nie die ekonomiese skok absorbeer wat die afgelope tyd se onluste veroorsaak het nie, aangesien die sektor reeds, en steeds, deur die Covid-19-pandemie geraak word.

Volgens La Marque is dit nou van uiterste belang om handelsroetes, hawens, verspreidingsentrums en raffinaderye te beskerm en te ondersteun ten einde te verseker dat hulle nie weer toegemaak word nie.

“Net die tyds sal leer hoe land dit sal duur om bedrywighede in die voorsienningsketting te herstel. Die handhawing van produksievlakke deur sigbare polisiëring en die weermag bly noodsaaklik om te verseker dat die landbouwaardeketting vroeër eerder as later doeltreffend kan funksioneer,” sê La Marque.






Verwante Artikels