Kosteknyptang op plaasvlak demp melkproduksie

  • 13 Oktober 2021
  • 170
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens Bertus van Heerden, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO), is die situasie so benard dat nie eens die gemiddeld 16% wat produsente vanjaar meer vir onverwerkte melk ontvang het genoegsaam om produksievlakke te lig nie.

Statisties was die plaashekprys vir onverwerkte melk gedurende die eerste agt maande van die jaar ongeveer 28% hoër as in die ooreenstemmende tydperk in 2029. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die koste van voermeel soos geelmielies en sojabone met 39% hoër was as twee jaar gelede. Vanaf Augustus 2020 tot Augustus 2021 het die koste van ander produksiemiddele boonop oop gestyg, waaronder elektrisiteit met 18,7%, yster en staal met 44% en landbouchemikalieë met 2,7%.

Die melk-tot-voerprysverhoging was volgens Van Heerden in September vanjaar 1:1,23. Vir baie melkprodusente is enige verhouding laer as 1:1,4 nie winsgewend nie.

Ekonomiese aanwysers dui op stremming rakende ekonomiese bedrywighede en gedurende die tweede kwartaal van vanjaar was verbruikersbesteding R37 miljard minder as in die ooreenstemmende kwartaal in 2020. Data oor verbruikerskrediet toon voorts dat verbruikers oor die algemeen sukkel om hul rekeningverpligtinge na te kom.

Suiwelwaardeketting

Volgens Van Heerden sal die suiwelwaardeketting slim te werk moet gaan oor die bestek van die volgende drie maande omdat die plaasekonomie dikteer dat daar geen marge is om boere se pryse te verlaag nie.

Hiermee saam sukkel die Suid-Afrikaanse verbruiker te midde van ʼn swak ekonomie, wat weer ʼn ongunstige uitwerking op koopkrag het.

Die Suid-Afrikaanse Melkprosesseerdersorganisasie (Sampro) is van mening dat suiwelprodukte se kleinhandelverkope in die eerste ses maande van die jaar laer was as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Hierdie afname word toegeskryf aan die gevolge van die streng inperkingsregulasies wat aan die begin van die pandemie aangekondig is en wat verkope verwring het. 






Verwante Artikels