Internasionaal nog geen einde aan stygende voedselpryse

  • 13 Januarie 2021
  • 773
  •  senwes
  •  
  •  nuus



Die tendens van stygende voedselpryse word reeds vir die afgelope sewe agtereenvolgende maande waargeneem.

Die FAO-voedselrysindeks was gedurende Desember 2020 op 107,5 punte vasgestel, 2,2% hoër as wat dit in die voorafgaande maand was. Die maatstafindeks, wat maandelikse veranderinge in die internasionale pryse van voedselprodukte aandui, was vir die duurte van 2020 op gemiddeld 97,9 punte vasgestel wat nie net ʼn toename van 3,1% op die 2019 data verteenwoordig nie, maar ook as die grootste styging die afgelope drie jaar beskou word.

Graan

Die graanprysindeks het vanaf November met 1,1% gestyg en het vir die duurte van 2020 gemiddeld 6,6% bo die aangetekende vlakke van die vorige jaar verhandel. Die uitvoerpryse van koring, mielies, sorghum en rys het ook in Desember toegeneem as gevolg van kommer oor die groeitoestande en oesvooruitsigte in Noord- en Suid Amerika, sowel as Rusland.

Op ʼn jaargrondslag was die uitvoerprys van rys 8,6% hoër, terwyl die prys van mielies en koring onderskeidelik 7,6% en 5,6% hoër was.

Groente-olie

Die indeks vir groente-olie het in Desember met 4,7% toegeneem en die hoogste vlak sedert September 2012 bereik. Derhalwe die voortslepende verskaffingsdruk wat in die groot palmolieproduserende lande ervaar word, is internasionale handel verder beïnvloed deur ʼn skerp toename in uitvoerkoste vanaf Indonesië.

Internasionaal het die prys van soja-olie ook gestyg as gevolg van langdurige stakings in Argentinië wat die persproses en gevolglike verskeping negatief beïnvloed het. Op die keper beskou het hierdie subindeks gemiddeld 19,1% hoër verhandel as in 2019.

Suiwel

Die suiwelprysindeks het in Desember met 3,2% gestyg, met alle kategorieë wat sterker vertoon as gevolg van ʼn sterk wêreldwye aanvraag. Kommer oor heersende droogtetoestande in Oseanië asook ʼn groot aanvraag in Wes-Europa het dié styging aangedryf. Deur die loop van 2020 was die suiwelprysindeks gemiddeld 1% laer as in 2019.

Vleis

Gedurende Desember het die vleisprysindeks met 1,7% gestyg, terwyl dit op ʼn jaargrondslag ongeveer 4,5% swakker vertoon het as in die vorige jaar.

Suiker

ʼn Daling van 0,6% in die suikerprysindeks is gedurende Desember aangeteken. Dié subindeks het gedurende 2020 ongeveer 1,1% hoër verhandel as wat die geval in 2019 was. Hierdie styging word toegeskryf aan die toenemende vraag na verfynde suiker vanuit Indonesië, terwyl verbeterde produksievooruitsigte in Brasilië en Indië ook ʼn invloed gehad het.






Verwante Artikels