Gewelddadige betogings bedreig landbouwaardeketting

  • 12 Julie 2021
  • 1529
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



In ʼn verklaring wat vroeër vandag uitgereik het, het die SANW aangekondig dat daar begin is met die nodige prosesse en prosedures ter voorbereiding daarvan om sy lede te ontplooi soos versoek deur die nasionale gesamentlike en operasionele intelligensiestruktuur (Natjoings). Die doel van hierdie ontplooiing sal wees om wetstoepassingsagentskappe by te staan om die onluste van die afgelope paar dae stop te sit.

Op hierdie stadium is dit nog nie duidelik hoeveel lede ontplooi sal word en vir hoe lank nie, en volgens die verklaring sal die situasie op die grond voortdurend geassesseer word. Volgens brig. Genl. Mafi Mgobozi, SANW se direkteur van kommunikasie, is die rol van die weermag om die polisie en die omstandighede waarin wetstoepassingsagentskappe hul werk moet doen, te beveilig terwyl dié agentskappe hul grondwetlike pligte uitvoer.

Landbou-gemeenskappe vra dringende ingryping

Die landbou-gemeenskap van KwaZulu-Natal het owerhede vroeër versoek om dringend in te gryp om toe te sien dat die gewelddadige betogings op en versperring van die N3-hoofweg gestop word.

Hierdie betogings, wat na bewering verband hou met die inhegtenisneming van oudpresident Jacob Zuma, het reeds grootskaalse skade en ontwrigting veroorsaak. Verskeie video’s en foto’s van brandende vragmotors en voertuie, asook betogers wat bande en klippe na voertuie op verskeie paai gooi, doen sedert die naweek die rondte op sosiale media platforms.

Volgens ʼn artikel in Landbou.com het Sandy La Marque, uitvoerende hoof van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu), aangedui dat die situasie ʼn ernstige impak op die landboubedryf in die provinsie het met verskeie produsente en ander rolspelers wat nie hulle produkte van en na afsetpunte en die hawe kan vervoer nie.

Sy het verder gesê dat ingryping uiters belangrik is sodat onder meer rolspelers in die landbou, wat as ʼn noodsaaklike diens gesien word, met hul werksaamhede kan voortgaan en die ekonomie vooruit kan beweeg.

Ons hoogste prioriteit is die beskerming van ons werknemers

In die lig van die gewelddadige protesaksie, saakbeskadiging en brandstigting op verskeie snelweë regoor die land, het Senwes by monde van sy groep hoof uitvoerende beampte, Francois Strydom, die volgende riglyne gekommunikeer:

  • Die bestuurders van alle bedryfspunte moet seker maak dat hulle weet waar hul voertuie op die oomblik is.
  • Drywers en swaarvoertuigbestuurders word gemaan om ingelig te wees oor wat op die paaie rondom hul besigheidspunte aangaan.
  • Geen drywer of vragmotorbestuurder mag ʼn rit onderneem alvorens hulle die versekering het dat die roete wat hulle gaan volg veilig is om te gebruik nie.
  • Indien ʼn drywer of vragmotorbestuurder vermoed dat die roete waarop hy verkeer deur protesaksie beïnvloed kan word, moet hy omdraai en na sy besigheidseenheid terugkeer.
  • Indien dit nie moontlik is om om te draai nie, moet die drywer of vragmotorbestuurder by die naaste vragmotor stop parkeer en wat totdat die situasie tot bedaring gekom het, of tot dit veilig is om verder te ry of om te draai.
  • Vermy ʼn konfrontasie met protesteerders.
  • Voortdurende kommunikasie is van kardinale belang. Hou jou besigheidseenheid voortdurend op hoogte van jou vordering op die pad.
  • Praat voortdurend met jou klantebasis om hulle op hoogte te hou van moontlike vertragings.
  • Moenie algemene of ongeverifieerde boodskappe op sosiale media uitstuur nie.

“Die veiligheid van ons drywers en vragmotorbestuurders bly ons hoogste prioriteit en daarom versoek ons alle betrokkenes binne die landbouwaardeketting om paraat te wees en weg te bly van enige gevaarlike situasies,” sê Strydom.






Verwante Artikels