Ent nou in teen slenkdalkoorsvirus

  • 18 Januarie 2021
  • 468
  •  senwes
  •  
  •  nuus



Hierdie voorkomende optrede is veral belangrik na die goeie reën wat oor groot dele van die land uitgesak het, en water plek-plek opdam. Aedes-muskiete, wat die virus oordra, broei en vermeerder in dié toestande.

Die slenkdalkoorsvirus tas skape, bokke, beeste en selfs buffels aan, en omdat SDK ʼn Soönose is, kan mense ook besmet raak. Besmetting van mense vind hoofsaaklik plaas wanneer hulle siek of dooie diere hanteer, en daarom word dit as ʼn aanmeldbare siekte geklassifiseer. Die laaste aangetekende geval van SDK in Suid-Afrika was in Mei 2018 te Jacobsdal in die Vrystaat.

Inenting en entstowwe bied beskerming

Die Nasionale Dieregesondheidsforum (NDGF) en Afrivet (ʼn borg) maan produsente aan om hul diere so gou as moontlik in te ent in ʼn poging om die siekteverspreiding te voorkom. Verskeie geregistreerde produkte is ook beskikbaar om muskietbyte te verhoed, en sluit dippe, spuitmiddels en opgietmiddels, waarin die aktiewe bestanddeel deltametrien voorkom, in.

Volgens kenners by die NDGF moes die entstof, ideaal gesproke, reeds in die vroeë lente toegedien gewees het, maar dit is nog nie te laat nie. Dit is van groot belang dat die entstof so spoedig moontlik toegedien word aangesien die meeste uitbrekings in die hoog- en laatsomer plaasvind.

Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) vervaardig tans twee entstowwe:

  • OBP Lewende SDK Entstof

    Alhoewel daar alom geglo word dat hierdie entstof ʼn lang periode van beskerming bied, word dit sterk aanbeveel dat inenting jaarliks geskied. Hierdie entstof moet nie tydens SDK uitbreke toegedien word nie, en ook nie aan dragtige diere nie.

  • OBP geïnaktiveerde SDK Entstof

Hierdie entstof moet jaarliks toegedien word en is veilig vir dragtige diere. As diere vir die eerste keer ingeënt word, word twee dosisse ses weke uitmekaar gegee, wat die inentingsproses duurder en meer arbeidsintensief kan maak.

Diere ontwikkel ʼn goeie immuniteit teen SDK twee tot drie maande ná inenting.

Siektetekens by vee

Lammers en bokkies onder die ouderdom van twee weke is baie vatbaar en hulle word binne 24 tot 72 uur na besmetting siek. Siektetekens sluit in ʼn hoë koors, lusteloosheid en ʼn gebrekkige eetlus.

Ander simptome sluit in: traagheid om te loop, buikpyn, vinnige asemhaling, naarheid, slegruikende diarree en soms ook geelsug. Dragtige ooie aborteer en die geaborteerde fetus onbind vinnig.

Kenners meen die voorkoms van vrektes onder ouer skape kan so hoog as 15% tot 30% wees, terwyl 40% tot 60% van dragtige diere sal aborteer. Die kliniese siektetekens by bokke is gewoonlik minder erg as dié van skape. By kalwers kom ligte kliniese tekens en 10% tot 15% vrektes voor, terwyl die voorkoms van aborsies by 10% tot 40% van volwasse beeste soms die enigste siekteteken is.

Gevaarlik vir mense

Mense kan besmet raak deur regstreekse aanraking met die Slenkdalkoorsvirus en dit kan tydens nadoodse ondersoeke op besmette karkasse of geaborteerde fetusse plaasvind.

Die virus dring die liggaam binne deur slymvliese, krakies of seertjies in die vel en dit is veral veeartse, veeprodusente, plaaswerkers en laboratoriumtegnici wat die gevaar loop om besmet te raak. Teoreties kan ʼn mens ook SDK opdoen deur inname (van byvoorbeeld besmette melk), deur inaseming of om deur ʼn SDK draer-muskiet gebyt te word, maar die voorkoms hiervan is minder algemeen.

Ongeveer sewe dae verloop vanaf die besmetting van ʼn individu tot die verskyning van die eerste siektetekens. Aanvanklik, kan die volgende simptome waargeneem word: spierpyn, kouekoors, vomering, bloederige urine, ligsensitiwiteit, verswakte sig, gewrigspyne, hoofpyn en koors. Die meeste mense herstel na ʼn week of twee en is noodlottig in minder as 0,5% van gevalle meestal weens ernstige hepatitis (lewerontsteking) of enkefalitis (harsingontsteking).

Meer oor SDK

  • Die naam “Slenkdalkoors” is afkomstig van die Slenkdalgebied in Kenia, waar die siekte die eerste keer aangeteken is.
  • Die virus wat SDK veroorsaak is die eerste keer in 1930 geïsoleer tydens ʼn epidemie onder skape in die Slenkdalgebied.
  • Die periodes tussen Slenkdalkoors uitbreke is relatief lank (jare) en daarom ent die meeste vee-eienaars nie hulle diere nie en is die oorgrote meerderheid vee in Suid-Afrika vatbaar vir Slenkdalkoors. Indien Slenkdalkoors sou voorkom, sal dit baie vinnig van plaas tot plaas versprei.
  • Vanaf 1950 tot 1956 en 1969 tot 1976 het SDK verskeie male in Suid-Afrika uitgebreek en tot groot verliese vir produsente gelei.
  • In 1975 het Suid-Afrika ook sterfgevalle onder mense wat dié siekte opgedoen het, aangeteken.





Verwante Artikels