Departement skort koopbewyse vir bestaansboere op

  • 14 Januarie 2022
  • 94
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Hierdie hulpverligting het deel uitgemaak van die presidensiële indiensneming- stimuluspakket (PES).

In ʼn verklaring wat in hierdie verband uitgereik is, sê die departement dat dié hulpverleningsprogram hersien en herontwerp gaan word en dat verskeie kwessies alvorens implementering aangespreek moet word.

Volgens Molatelo Mamadi, woordvoerder van die departement, het die departement tallose klagtes van PES-begunstigdes en die breër Suid-Afrikaanse publiek ontvang oor uitdagings met die PES. Hy sê voorts dat hierdie klagtes, veral oor die toepassingsproses, nie onaangeroer kan bly nie en daarom het die departement besluit om eerder tydelik die huidige inwerkingstelling daarvan op te skort.

Meer oor die projek

Die projek, bekend as die “presidential employment stimulus” (PES), behels koopbewyse wat aan bestaansboere verskaf word om produksiemiddele mee aan te koop.

Die projek het in Desember 2020 begin om meer as 75 000 bestaansboere te help om te produseer en op hierdie manier werk te skep. Die afgelope Desember is die projek uitgebrei om ʼn verdere 50 000 bestaansboere te betrek.

Hierdie bestaansboere kon aansoek doen vir R1 000 tot R12 000 se koopbewyse per huishouding. Sowat 5 000 voorligtingsbeamptes is aangestel om met die projek te help.

Stelsel word misbruik

Volgens die departement het dit aan die lig gekom dat die stelsel na bewering misbruik word deur begunstigdes wat hul koopbewyse vir kontant aanbied pleks daarvan om produksiemiddele te koop. Daar was glo ook verskaffers en handelaars wat boere tot 50% meer gevra het vir insetmiddele en tussengangers wat op kommissie aangedring het.

Die departement het vroeër gewaarsku dat verskaffers wat oortree, op ʼn swartlys geplaas sal word of aangekla kan word. Produsente wat die koopbewyse vir ander doeleindes gebruik as waarvoor dit bedoel is, sal ook uitgesluit word van enige verdere staatsondersteuning. 





Verwante Artikels