Agri SA vra privaatsektor om hulp na brandskade

  • 22 Oktober 2020
  • 700
  •  senwes
  •  
  •  nuus



Agri SA het vroeër die week ʼn skenking van R300 000 aan Vrystaat Landbou gemaak om die geaffekteerde boere en plaaswerkers in hierdie tyd van nood by te staan. Meer as 100 000 hektaar weiveld is die afgelope paar dae deur die vernietigende brand verswelg. Honderde stuks vee, wild en selfs huise is geheel en al verwoes. Boshof, Dealesville, Hertzogville en Hoopstad is van die gebiede wat deur die verwoesting geraak is.

Die brand het in ‘n noordwestelike rigting na Boshof in die Noord-Kaap beweeg. Tans is die vure onder beheer, maar lede van Vrystaat Landbou asook die FS Sambreel BBV (Brand Beskermingsvereniging) hou ‘n wakende oog oor die situasie.

Vrystaat Landbou en Agri Noord-Kaap is besig om ‘n opname op grondvlak te doen om die omvang van die skade te bepaal. Die dringendste behoefte is om boere by te staan met die herstel van infrastruktuur soos heinings om vee wat tydens die brande gevlug het, te beveilig. Veevoer en die vervoer daarvan is ook van kritieke belang.

Voornemende donateurs kan met Elize Spence by Vrystaat Landbou skakel deur haar by elize@vslandbou.co.za of 051 444 4609 te kontak.





Verwante Artikels