Maatskappyprofiel
Senwes is een van die toonaangewende agri -besighede in Suid-Afrika – gestig in 1909 en diepgewortel met sy hoofkantoor in Klerksdorp, Suid-Afrika, strek sy besigheidsaktiwiteite oor vier lande in die SAOG-streek. Die maatskappy se hoofbesigheid, sowel as finansiële, tegniese en logistieke dienste is in die Noordwes, Vrystaat, Gauteng en Wes-Kaap provinsies in Suid-Afrika asook ’n voetspoor in Malawi, Zambië en Mosambiek.
Die Senwes groep het ’n geïntegreerde model wat die aflewering van sy primêre doel, naamlik om by te dra tot voedselveiligheid op ’n volhoubare basis, fasiliteer.
Senwes Grainlink is die marktoegangskant van die besigheid en verskaf bergings- en hanteringsdienste via ’n goed ontplooide silo-infrastruktuur met ’n kapasiteit van 4,6 miljoen ton, wat meer as 25% van die totale Suid-Afrikaanse kommersiële bergingskapasiteit verteenwoordig. Senwes silo’s hanteer sowat 18% van die land se graan en oliesade in ’n normale landbouproduksiejaar. Senwes is ’n betroubare verskaffer van skoon, veilige en gesonde kommoditeite met integriteit en kwaliteit.
Senwes Village is verantwoordelik vir die verskaffing van produksie-insetmiddele en meganisasiebenodigdhede, deur mededingende waarde- en dienspakkette. Waarde word toegevoeg vir produsente deur relevante insetkostefinansieringspakkette wat deur Senwes Credit gebied word.
Senwes het ’n strategiese vennootskap met Bunge (Europa, Midde-Ooste, Afrika) die bedryfsarm van Bunge Beperk, ’n toonaangewende internasionale agribesigheid en voedselmaatskappy, waar deur gesamentlike ondernemings gestig word wat beide partye in staat stel om hul gesamentlike aspirasies en strategiese doelwitte te realiseer.
’n Gesamentlike onderneming is tans in bedryf, waardeur die partye deelneem aan internasionale verhandeling van geelmielies en oliesade. Senwes en Bunge het ook onlangs ooreengekom om saam die vestiging van ’n oliepersaanleg in Suid-Afrika te ondersoek.
Senwes is ’n vlak 6 BBSEB-bydraer. (Sien BBSEB-telkaart op die webtuiste).
Senwes is ’n ongenoteerde maatskappy met aandele wat oor die toonbank verhandel (oor-die-toonbank-verhandelingsmeganisme).