Article information
Author
Romi Boom
Source
 
Classification
Lekker lees
Views
431 
Article Tags

Wild outdoors

Op die spoor van die jagluiperd in die veld
Romi Boom  | 18 Junie 2012

Sal jy daarvan hou om die spoor van die vinnigste soogdier op land te volg? Bergkwagga Nasionale Park naby Cradock is die eerste nasionale park wat hierdie unieke aktiwiteit aanbied.

Die kans om in ‘n jagluiperd se spoor te loop het na ‘n onvergeetlike avontuur geklink, so tydens my onlangse besoek aan Bergkwagga Nasionale Park het ek die geleentheid benut. Senior veldgids Michael Paxton het my vergesel en kort nadat ons uitgery het na ‘n uitkykpunt op Kranskop Loop, het ons seine ontvang van ‘n paar van die ses jagluiperds met opsporingsbande in die park. Die sterkste sein het gekom van ‘n wyfie genaamd Nixi. Michael het verduidelik haar naam is ontleen van die Latyn Acinonyx jubatus, die wetenskaplike naam vir die jagluiperd.

Op pad na die Doornhoek gastehuis, voorheen een van die eerste plaashuise in die gebied, het Michael, voorheen ‘n veldgids in die Kruger Park, sy indrukwekkende kennis van die veld met ons gedeel. Hy het beklemtoon dat besoekers ‘n gans ander ervaring beleef in ‘n park soos Bergkwagga. Ook hy was betower met die landskap en die eindelose panoramas van die Oos-Kaap en het hom verdiep in ‘n studie van die botaniese rykdom van die park.

Langs ‘n mistel met ‘n mooi oranje-rooi blom het Michael die oop safari voertuig tot stilstand gebring. Dit blyk bekend te wees as Voëlent of Bobbejaan Vuurhoutjies (Tapinanthus rubromarginatus). Hierdie semi-parasitiese lugplant het ‘n unieke ekologiese verhouding gevestig met baie verskillende voëls wat die struik se blomme bestuif sowel as die saad versprei, vertel hy. Binne die soet vrug is ‘n saad, bedek met dik, taai gom. Wanneer die voël die vrug geëet het, bly die taai saad klou aan die voël se snawel wat hy dan teen die naaste tak afvee waar dit klou tot die saad ontkiem. Met ontkieming stuur die saad dan gespesialiseerde wortels in die bas van die gasheer boom.

Nadat ons langs Doornhoek Dam parkeer het, het ons die sein per voet agtervolg, al hoër en hoër op teen Rondekop. Die sein was redelik sterk alhoewel dit nie gelyk het of ons veel nader daaraan kom nie. Dis toe maar aanstap Rooies, al klouterend oor los klippe, nie ‘n maklike klim nie!

Dit blyk toe dat Nixi ook aan die beweeg was teen die 1 515m hoë berg uit, en met veel meer gemak as ons. Wat was dit met hierdie jagluiperd en haar jakkalstreke?!  Na meer as ‘n uur se klim het Michael uiteindelik omgedraai en met ‘n groot glimlag beduie. “Daar is sy.” En toe sien ons haar, skaars 10 meter vanwaar ons gestaan het. Die kleur van die gras, haar stert spelend, ‘n GROOT jagluiperd. Haar oë was op ons vasgenael, maar sy was ongesteurd. Die allerpragtige dier het ons ‘n rukkie in haar ruimte gegun, toe opgestaan en na die volgende koelteboom gesluip. Weer het ons die afstand tussen ons verminder, weer het sy haar dit laat welgeval.

Toe Nixi uiteindelik begin grom het, was dit tyd vir ons om aan te beweeg. Wat ‘n ongelooflike ervaring. Ons was sonder woorde.

Jagluiperd spoorsny kos R250 per persoon, geen kinders onder-16. Bespreek by (048) 881-2427.



  



You must be a logged in MySenwes user to leave a comment.

Log in Register




  

Related Articles


Ongelooflike landboufotos om voor te stem
64 view(s) | Senwes | 15 Mei 2013 04:12 PM

Tyd beperk vir fotokompetisie
132 view(s) | Senwes | 08 Mei 2013 01:18 PM

Reukies rondom vleis
199 view(s) | Piet Coetzer | 02 April 2013 08:14 AM

Sportnutse vir almal
156 view(s) | Francois Rabe | 27 Maart 2013 12:35 PM

Stem vir jou gunstelingfoto!
251 view(s) | Senwes | 26 Maart 2013 01:57 PM



Facebook   Twitter   YouTube  



 




SENWES BEPERK Registrasienommer: 1997 / 005336 / 06
1 Charel de Klerk Straat, Klerksdorp --- Posbus 31, Klerksdorp, 2570
Tel: +27 18 464-7800 | Faks: +27 18 462-4873 | Tolvry: 080 941 4011 | info@senwes.co.za

Kredietverskaffer - Ref number: NCRCP 2402

Enige vrae of kommentaar aangaande die webtuiste kan gerig word aan webmaster@senwes.co.za