Article information
Author
Senwes
Source
elmarie.joynt @senwes.co.za 
Classification
Persverklaring
Views
1308 
Article Tags

Silo Senwes Grainlink competition-commission press-release SAFEX

Grondwethof bevind dat tribunaal wye magte het
Senwes  | 16 April 2012

Die Grondwethof het op 12 April 2012 bevind dat Senwes wel art. 8(c) van die Wet op Mededinging oortree het. ʼn Klagte van onmededingende sakepraktyk wat graanopbergingstariewe betref wat in 2006 by die Mededingingskommissie teen Senwes aanhangig gemaak is, het gelei tot ʼn uitgerekte regsproses wat die Mededingingsappèlhof, die Appèlafdeling van die Hooggeregshof en uiteindelik die Grondwethof ingesluit het.

“Ons is uiteraard teleurgesteld met die bevinding – veral na die lang en duur proses in die verband – maar ons is verheug dat dit nou op ʼn einde is. Senwes sal die nodige stappe doen en die saak verder met die Kommissie opneem,” het Francois Strydom, Besturende Direkteur van Senwes gesê en bygevoeg: “Senwes se opbergingstariefstrukture is reeds in 2008 in geheel hersien en alle gebruikers van die opbergingsfasiliteite word die geleentheid gegun om op ʼn gelyke voet te kies vanaf ʼn wye spyskaart van tariveringsopsies.”

Vroeg in 2006 na 'n twee jaar-lange ondersoek, het die Mededingingskommissie 'n klagte deur die Stellenbosch-gesetelde CTH Trading teen Senwes na die Mededingingstribunaal verwys vir ʼn bevinding. Senwes het na bewering sekere artikels van die Mededingingswet oortree deurdat dit sy dominante posisie in die graanmark misbruik het en graanprodusente oor te haal om nie met mededingers besigheid te doen nie. Senwes was van mening dat daar geen feitelike regsbasis vir die klagte bestaan het nie en het die klagtes geopponeer.

Na ʼn uitgerekte regsproses, het die Tribunaal bevind dat die klagtes, soos verwys na die Tribunaal, nie op ʼn oortreding van die Mededingingswet neerkom nie. Die Tribunaal het egter bevind dat Senwes mededingers in die graanhandelmarkte se marges onder druk geplaas het. Hierdie oortreding is deur die Tribunaal onder die hoof van artikel 8(c) van die Wet op Mededinging hanteer as ʼn sogenaamde “margedruk”. Die bevinding het nie ʼn boete gedra nie.

Senwes het beswaar aangeteken dat die besonderhede van beweerde oortreding nie gedurende ondersoek aan Senwes gestel is nie en ook nie deur die Mededingingskommissie na die Tribunaal vir verhoor verwys is nie, alhoewel die getuieverklarings, wat ʼn paar weke voor die verhoor uitgeruil is, wel bewerings rakende sulke optrede bevat het. Die Tribunaal het egter wel hieroor uitspraak gelewer.

Senwes het daarna appèl teen die bevinding aangeteken na die Mededingingsappelhof en daarna ook na die Appèlafdeling van die Hooggeregshof in Bloemfontein. Laasgemelde het in Junie 2011 bevind dat die margedruk klagte nooit deur die Mededingingskommissie ondersoek of verwys is nie en dat die Tribunaal nie bevoeg was om daarop te beslis nie.

Die Mededingingskommissie het daarna op sy beurt teen hierdie bevinding geappelleer na die Grondwethof wat op 12 April 2012 bevind het dat die Tribunaal se magte nie beperk kan word nie en dat dit wel wyer aspekte en bewerings in die verloop van ʼn verhoor voor dié forum mag oorweeg en daaroor bevind. Die Hof het bevind dat die Tribunaal nie in die uitoefening van sy wetlike mandaat onnodig beperk kan word nie en dat dit bevindinge buite die verwysing mag maak.

Die meerderheid van die Hof het bevind dat Senwes wel genoegsame geleentheid gehad het om homself te verdedig maar die minderheid van die Hof het bevind dat die proses nie billik was nie omdat die kwessies waaroor die Tribunaal beslis het nie vooraf duidelik genoeg omskryf was nie en daar nie vooraf uitspraak gelewer is oor Senwes se besware nie.

NAVRAE
Die Maatskappysekretaris
Elmarie Joynt
Tel + 27 18 464 7104
elmarie.joynt@senwes.co.za




  



You must be a logged in MySenwes user to leave a comment.

Log in Register




  

Related Articles


Senwes mededingingsaak geskik
157 view(s) | Senwes | 15 Mei 2013 03:39 PM

Samesmelting van AFGRI en Senwes kleinhandelsbesighede goedgekeur deur mededingingsowerhede
509 view(s) | Senwes | 12 April 2013 11:35 AM

Hoogste Hof van Appel beslis in Senwes en Senwesbel se guns oor aandele
327 view(s) | Senwes | 05 April 2013 10:34 AM

Kennisgewing - Aandeleterugkoopprogram
1206 view(s) | Elmarie Joynt | 13 Desember 2012 05:55 AM

Afgri Operations en Senwes nader aan finalisering van die samesmelting van landbou-kleinhandelsbesighede
1358 view(s) | Senwes | 05 Desember 2012 05:58 AM



Facebook   Twitter   YouTube  



 




SENWES BEPERK Registrasienommer: 1997 / 005336 / 06
1 Charel de Klerk Straat, Klerksdorp --- Posbus 31, Klerksdorp, 2570
Tel: +27 18 464-7800 | Faks: +27 18 462-4873 | Tolvry: 080 941 4011 | info@senwes.co.za

Kredietverskaffer - Ref number: NCRCP 2402

Enige vrae of kommentaar aangaande die webtuiste kan gerig word aan webmaster@senwes.co.za