Article information
Author
Senwester
Source
Senwester (2008) 
Classification
Agronomie
Views
908 
Article Tags

winter-crops Alternatiewe gewasse

Akkerbone - onderbenutte gewas met baie potensiaal
Senwester  | 01 Oktober 2008

Akkerbone (Vigna unguiculata) is inheems aan Afrika en goed aangepas by Suid-Afrikaanse toestande. Dit word weerspieël in die gewas se droogteverdraagsaamheid en die akkerboonspesifieke knoppiesbakterieë.

Untitled Document

Akkerbone kan op ’n groot verskeidenheid grond verbou word en het ’n wye aanwendingsveld (hooi, weiding, graan, groenbemesting en groente), maar word deesdae nie algemeen verbou nie.

Voor die koloniale era het die inheemse bevolking van Afrika akkerbone as voedsel benut. Dit is reeds in 1923 in Field Crops in South Africa as ’n kommersiële landbougewas bespreek. In 1957 (Hulpboek vir Boere in Suid-Afrika; deel II) word na die akkerboon verwys as een van die belangrikste somerpeulgewasse in die destydse Unie. Laasgenoemde is egter nie meer waar nie. Van die faktore wat hiertoe bygedra het, is:

  • Die verbouing van gewasse soos mielies en sonneblom is maklik en die ekonomiese omvang van die bedrywe is groot;
  • Die gebruik van breëblaaronkruiddoder in mielies het akkerboonproduksie benadeel; en
  • ’n Gebrek aan die ontwikkeling van nuwe akkerboonkultivars.

Akkerbone is bekend vir goeie droogteverdraagsaamheid weens hul penwortelstelsel en meganismes om watergebruik te beperk. Akkerbone is ’n onderbenutte gewas wat groot waarde vir mens en dier kan inhou. As kos vir mense, kan akkerbone gebruik word as ’n tipe spinasie, groenbone, sop of proteïenryke plaasvervanger vir vleis. Vir vee kan dit gebruik word as weiding, hooi of kuilvoer.

Klimaatsvereistes
Akkerbone groei goed in warm areas. ’n Nagtemperatuur van ten minste 9'C is nodig vir die saad om te ontkiem en die vroegste moontlike plantdatum is wanneer die nagtemperatuur bokant 10'C bly. Saailingverwelksiekte kan by lae nagtemperature voorkom, terwyl dagtemperature tussen 21'C en 33'C vegetatiewe groei bevorder. Hoër temperature (veral in die middel van die somer) kan die blomstadium vervroeg. Ernstige vogstremming saam met hoë temperature kan lei tot blomafspening en swak saadset. Sekere kultivars is ook geneig tot hergroei indien laat reën voorkom.

Indien goed verspreide reën voorkom, kan akkerbone met so min as 300 mm per jaar ’n bevredigende oes van 5 tot 6 ton hooi of een ton graan/ha produseer.

Produksiepraktyke
Kultivars
Oor die algemeen het die ontwikkeling van nuwe kultivars oor die afgelope paar jaar nie baie aandag geniet nie. Volgens die LNR-Instituut vir Graangewasse is daar egter ’n paar belowende kultivars in die pyplyn, wat hopelik binne die volgende jaar of twee geregistreer behoort te wees.

Plantdatum
Kultivars varieer ten opsigte van die optimale plantdatum. Die beste planttyd in die koeler gebiede is teen die middel van November en in die warmer gebiede teen die middel van Desember. Akkerbone kan egter ook aan die begin van die reënseisoen (begin Oktober) en laat in Januarie geplant word, maar die risiko word dan verhoog. Vroeë aanplantings kan lei tot swak ontkieming en blomafspening (Desember/Januarie). Laat aanplantings kan weer oesverliese veroorsaak weens swakker groei en vroeë rypskade, terwyl plante dikwels ook nie peule vorm nie.

Indien akkerbone vir groenweiding, groenbemesting of kuilvoer aangeplant word, kan ’n vroeë aanplanting gevestig word mits die minimum temperatuur aan die vereistes voldoen.

Plantdigtheid, rywydte en plantdiepte
Regop-tipes presteer beter in nouer rye (0,9 m) met ’n plantestand van ±111 000 plante/ha. Dit kan ook in nouer rye van 0,45 m teen ’n plantdigtheid van ±222 000 plante/ha geplant word, indien genoeg grondwater beskikbaar is. Semi-rankers en rankers vaar beter in wyer rye (1,5 m) met ’n plantestand van 66 000 plante/ha. ’n Binneryspasiëring van 10 cm tussen plante is ideaal.

Tussengewasverbouing

  • Akkerbone kan tussen mielierye geplant word (2,25 m rye), waar die twee gewasse saam ingekuil word. Die akkerboonplante word uitgekap of -sny en oor die mielieplante gehang vir ’n dag of twee voor die mielies ingekuil word. Die akkerboonplant moet eers verlep om ’n goeie kwaliteit kuilvoer te lewer.
  • Akkerbone kan ook tussen die mielierye geplant word waar die hele land vir herfs- of winterweiding vir lammerooie gebruik word.

Akkerbone moet voor die mielies kniehoogte is, geplant word. Indien akkerbone vir saad of hooi geplant word, word bogenoemde praktyk nie aanbeveel nie. Akkerboonsaad moet op ’n diepte van 4 cm tot 5 cm geplant word.

Grond- en bemestingsvereistes
Akkerbone kan op ’n groot verskeidenheid grondtipes verbou word (7% tot 35% klei), maar is gevoelig vir versuiptoestande. Grond met ’n neutrale pH verseker optimale aktiwiteit van die Bradythizobium-bakterieë (stikstofbindende bakterieë).

Die Bradythizobium-bakterieë kom natuurlik in Suid-Afrikaanse grond voor en saadenting is selde nodig. Akkerbone is meer tolerant ten opsigte van grond pH en kan aanvaarbare opbrengste op suurgrond lewer (insluitend aluminium-geaffekteerde grond).

Stikstofbemesting vir akkerbone is baie laag en die stikstof wat toegedien word is nodig vir die “wegspring” totdat die stikstofbindende bakterieë aktief is. Sandgrond kan met 15 kg/ha stikstof bemes word, terwyl kleigrond slegs ’n behoefte van
5 kg/ha het.

Fosfor is belangrik vir saadset. Op grond met ’n fosforstatus van 20 mg/kg en minder word 10 kg/ha fosfor aanbeveel. Op grond met ’n fosforstatus van meer as 25 mg/kg kan fosfor teen 5 kg/ha toegedien word. Kaliumbemesting is slegs nodig in gevalle waar die kaliumstatus minder as 80 mg/kg is.

Tussen 20 kg/ha en 30 kg/ha stikstof word in die grond deur akkerbone agtergelaat vir die daaropvolgende gewas.

Onkruidbeheer
’n Onkruidvry-saadbed is nodig om onkruidbeheer gedurende die seisoen te verminder. Indien die rywydte by die groeiwyse van die kultivar aangepas word, sal die gewas na sewe tot agt weke ’n versmoringseffek op die onkruidsaailinge hê. ’n Ligte tandbewerking behoort tot op hierdie stadium voldoende te wees. Trifluralin, vir die beheer van eenjarige grasse en sekere breëblaaronkruid, is vir gebruik op akkerbone geregistreer. Dit is nog nie bekend hoe gevoelig die gewas vir atrasien is nie, maar dit moet aanvaar word dat dit ten minste net so gevoelig soos droë- en sojabone is en dat landerye wat die vorige seisoen teen die volle dosis met atrasien gespuit is, nie vir akkerboonproduksie geskik is nie.

Plaagbeheer
Plantluise, blom-, peul- en saadvretende insekte is die skadelikste, terwyl blaarvretende insekte voerproduksie kan benadeel. Sommige insekte, soos plantluise, kan virussiektes oordra. Dit is belangrik dat die area rondom die lande skoongehou word, aangesien insekte wat virussiektes versprei, daar kan skuil. Chemiese beheer moet ter wille van koste beperk word. Raadpleeg ’n kundige voordat enige bespuiting onderneem word.

Akkerbone is vatbaar vir knopwortelaalwurm en wisselbou moet op veral sandgronde toegepas word. Daar moet ten minste twee jaar tussen akkerboonaanplantings verloop.

Verskeie virussiektes is reeds in Suid-Afrika aangetref en sommiges kan ernstige skade inhou, veral in die gebiede met ’n hoër reënval. Geregistreerde saad wat siektevry is, behoort gebruik te word.

Oesstadium en -prosedure
Die beste oesstadium vir graanproduksie is wanneer 90% tot 95% van die peule afgedroog het. Oesreste wat by graanproduksie oorbly, kan vir voer gebruik word. Die voer het egter ’n lae ru-proteïeninhoud (8% tot 12%). Die oesstadium vir hooiproduksie is voordat die eerste 10% peule verkleur het, maar nog nie afgedroog het nie. Dit behoort hooi met ’n ru-proteïeninhoud van ±22% te lewer.

Kultivarkeuse en die doel waarvoor die akkerbone aangeplant word, kan die oesproses beïnvloed. Masjinerie wat vir droëbone ontwerp is, kan met geringe aanpassings vir die oes van die regop- en semi-regoptipes gebruik word. Kultivars wat hul peule hoog aan die plant dra (byvoorbeeld Rhino) kan met ’n kommersiële stroper gestroop word. ’n Lae dromspoed van die stroper is egter noodsaaklik om breekskade te voorkom. Akkerbone kan ook met grondboontjie-implemente geoes word.

Opsomming

  • Akkerbone is ’n onderbenutte gewas;
  • Akkerbone beskik oor goeie droogteverdraagsaamheid;
  • Dit het ’n wye gebruikswaarde vir mens en dier;
  • Dit kan op ’n groot verskeidenheid grondtipes verbou word en kan aanvaarbare opbrengste op suurgrond lewer; en
  • Tussen 20 kg/ha en 30 kg/ha stikstof word in die grond deur akkerbone agtergelaat vir die daaropvolgende gewas.

Verwysings

Tabel 1: Voorbeelde van kultivars en hul groeiwyse.

pic
Akkerbone

pic1
Akkerboongraan




  



You must be a logged in MySenwes user to leave a comment.

Log in Register




  

Related Articles


Geared for the harvest season
560 view(s) | Barry Hutchinson | 20 Februarie 2014 05:00 AM

Die belangrikheid van grondkartering en graanopbrengskaarte
558 view(s) | Gerrit Oosthuizen | 21 Oktober 2013 12:34 PM

Brazil and Canada give advice on soybean production
509 view(s) | Senwes | 21 Oktober 2013 06:04 AM

Meganisasiebeplanning - noodsaaklike bestuursinstrument vir die saaiboer
1174 view(s) | Ramonde Odendaal | 16 Augustus 2013 05:00 AM

GM-mielies beteken groter winste vir produsente
394 view(s) | Hans Lombard | 15 Augustus 2013 05:00 AM



Facebook   Twitter   YouTube  



 




SENWES BEPERK Registrasienommer: 1997 / 005336 / 06
1 Charel de Klerk Straat, Klerksdorp --- Posbus 31, Klerksdorp, 2570
Tel: +27 18 464-7800 | Faks: +27 18 462-4873 | Tolvry: 080 941 4011 | info@senwes.co.za

Kredietverskaffer - Ref number: NCRCP 2402

Enige vrae of kommentaar aangaande die webtuiste kan gerig word aan webmaster@senwes.co.za